Talle sterf in ontploffings by Jemen-lughawe

Foto: AFPTV/AFP

Minstens tien mense is Woensdag dood in ontploffings by die Aden-lughawe in Jemen, oomblikke nadat lede van ʼn nuwe eenheidsregering daar aangekom het.

Volgens amptenare was dit ʼn lafhartige aanval deur Iran-gesteunde Houthi-rebelle.

Talle mense is in die ontploffings gewond, het ʼn bron aan AFP gesê. Al die regeringsministers is glo ongedeerd.

“Daar is minstens twee ontploffings gehoor toe die kabinetslede die vliegtuig verlaat het,” het ʼn AFP-korrespondent op die toneel gesê. Skares wat by die lughawe bymekaargekom het om die nuwe regering te begroet, het verskrik op die vlug geslaan. Sporadiese geweervuur ​​is kort daarna gehoor. Dit was nie onmiddellik duidelik wat die ontploffings veroorsaak het nie.

Jemen se internasionaal erkende regering en separatiste in die suide van die land het op 18 Desember ʼn magsdelingkabinet gevorm as ʼn gesamentlike front teen die Houthi-rebelle wat die hoofstad, Sanaa, en ʼn groot deel van die noorde van die land oorgeneem het.

Die kabinetslede het in Aden aangekom nadat hulle deur die Jemeense president Abedrabbo Mansour Hadi in Saoedi-Arabië ingehuldig is. Hadi het na die Saoedi-hoofstad Riyadh gevlug nadat rebelle Sanaa in 2014 oorgeneem het,

Die rebelle het die afgelope paar maande aanvalle op Saoedi-Arabië – insluitend sy kritieke olie-infrastruktuur – verskerp.

Duisende mense, meestal burgerlikes, is dood en miljoene mense is ontwrig tydens die oorlog in Jemen wat al vyf jaar lank duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.