Talle sterf in oorstromings in Italië

Toeriste poseer die afgelope week vir ’n foto op die oorstroomde Sint Markusplein in Venesië. Kenners voorspel as die huidige tempo van aardverhitting voortduur, kan dié stad reeds teen 2100 heeltemal onder water wees. Foto Twitter

Die dodetal in die afgelope week se oorstromings in Italië het tot meer as 30 gestyg, waarvan 12 sterfgevalle op die suidelike eiland Sisilië aangemeld is.

Die jongste ongevalle sluit nege lede van twee families in wat ʼn langnaweek in ʼn plattelandse woning naby die hoofstad van Sisilië, Palermo, deurgebring het toe dit deur ʼn vinnig stygende rivier verswelg is. Die drenkelinge het drie kinders ingesluit van onderskeidelik een, drie en 15 jaar oud, berig Al Jazeera.

Giuseppe Conte, Italië se eerste minister, beskryf die oorstromings as “ʼn geweldige tragedie”. Amptenare het begin ondersoek instel of die wonings naby die rivier op die eiland aan veiligheidstandaarde voldoen het.

Dele van die land is die afgelope sewe dae deur stormwind en swaar neerslae verwoes, terwyl Venesië die ergste oorstromings van die afgelope dekade ervaar het, berig CNN. In die streek Veneto, waarvan Venesië die hoofstad is, word die skade reeds op meer as R16 miljard beraam.

Talle van die sterfgevalle was die gevolg van bome wat deur winde van tot 190 km/h omgewaai is. Van die woude wat in die slag gebly het, is die “Vioolwoud”, 110 km noord van Venesië, wat die hout voorsien het waarvan die vioolmaker Antonia Stradivarius (1644 – 1737) sy beroemde instrumente vervaardig het.

Groot dele van Venesië was die afgelope week onder water terwyl die sterk winde die hooggety vererger het tot een van die hoogste vlakke wat al aangeteken is. Sint Markusplein het soos ʼn meer gelyk, terwyl die Sint Markus-basilika se antieke marmervloer ook onder water was.

Weens klimaatsveranderings kom oorstromings in Venesië ál algemener voor – ʼn probleem wat sal vererger namate die seevlak wêreldwyd weens aardverhitting styg.

Ingenieurs werk reeds jare lank aan innoverende onderwaterversperrings om dié stad teen oorstromings te beskerm, maar Projek Moses kon steeds nie voltooi word nie weens korrupsie en toenemende koste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. die eerste ·

As mens later van tyd Venesië wil besoek moet jy maar met ‘n duikpak en duiksilinder gaan smaak dit my!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.