Talle sterf in tweede aardbewing in Japan

Foto: Kyodo News via AP

Foto: Kyodo News via AP

Minstens 19 mense is dood en meer as 1 000 beseer nadat die suide van Japan deur ʼn tweede groot aardbewing getref is.

Die tweede aardbewing het tussen 7 en 7,3 op die momentmagnitudeskaal geregistreer. Nege mense is dood en honderde beseer toe ʼn aardbewing van 6,5 Donderdag in dieselfde streek voorgekom het. Altesaam 37 aardbewings van sterker as 4,5 het binne enkele dae in die gebied voorgekom, asook honderde trillings.

Een van die grootste aktiewe vulkane ter wêreld, op die berg Aso, het ʼn klein uitbarsting beleef, maar die Japannese owerhede meen ʼn groter uitbarsting sal nie nou volg nie. Na berig word, is talle mense in modderstortings begrawe. Meer as agthonderd mense is in hospitale opgeneem.

Die groot aardbewing se episentrum was net een kilometer van die stad Kumamoto-shi met net minder as ‘n miljoen inwoners, waar die hele stad se kragnetwerk lamgelê is. Byna al die aardbewings en trillings se episentrums was sowat tien kilometer onder die oppervlak.

Die groot aardbewing was maar die vierde aardbewing vanjaar wêreldwyd wat ʼn sterkte van 7 of meer gehad het. Die sterkste vanjaar was ʼn skudding van 7,8 naby Sumatra op 2 Maart. Die relatief min groot aardbewings vanjaar staan in skrille kontras met verlede jaar, toe 19 sulke aardbewings wêreldwyd voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Mini Ystydperk is naby. Hierdie is almal simptome…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.