Talle sterf ná gletser in Indië afbreek

Só lyk die Chamoli-distrik in die Indiese staat Uttarakhand Maandag nadat ‘n gletser Sondag afgebreek en in ’n hidro-elektriese dam beland het. (Foto: Sajjad HUSSAIN / AFP)

Altesaam 18 mense is dood en minstens 200 word vermis nadat ’n gletser in die Himalaja-gebergte Sondag afgebreek en in ’n hidro-elektriese dam in die noorde van Indië beland het.

Die voorval het in ’n kitsoorstroming ontaard wat brûe, paaie en twee hidroëlektriese kragsentrales in die Indiese staat Uttarakhand oorstroom het.

“Daar was ʼn stofwolk soos die water voortgestu het. Die grond het geskud soos tydens ʼn aardbewing,” het Om Agarwal, ’n inwoner van Uttarakhand, ná die voorval aan plaaslike media gesê.

Die meeste van diegene wat nog vermis word, was by die kragsentrales aan diens toe die oorstromings plaasgevind het. Sommige is nog in twee tonnels vasgekeer wat weens die oorstromings deur modder en rotse onbegaanbaar is.

“Ons was 300 m in die tonnel besig om te werk toe daar skielik gefluit en geskree word dat ons moet uitkom,” het Rajesh Kumar (28), een van die oorlewendes, ná die voorval vertel.

“Ons het begin uithardloop maar die water het ingestroom. Dit was soos ’n toneel uit ʼn Hollywood-fliek. Ons het gedink ons gaan dit nie maak nie,” het Kumar aan AFP gesê.

Twaalf van die vasgekeerders kon Sondag uit een van die tonnels bevry word, maar tussen 25 en 35 mense is steeds in die ander tonnel vasgekeer.

“Die tonnel is ongeveer 80 m diep skoongemaak en toeganklik. Dit lyk wel of daar nog ongeveer 100 m se puin in die tonnel opgeruim moet word,” het Vivek Kumar Pandey, ’n plaaslike amptenaar, gesê.

Honderde reddingswerkers is in dié stadium op soek na oorlewendes.

Trivendra Singh Rawat, hoofminister van Uttarakhand, het intussen aan verslaggewers gesê die situasie sou nie so erg gewees het indien die voorval ná ure gebeur het, wanneer werkers tuis was nie.

Gletsers in dié betrokke streek is ʼn uiters belangrike bron van water vir honderde miljoene mense. Gletsers het egter die afgelope jare vinnig afgeneem as gevolg van aardverwarming, hoewel kenners meen dat die bou van hidroëlektriese aanlegte ook ʼn faktor kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.