Talle sterf na nóg ʼn skudding Lombok tref

Reddingswerkers kom by Mount Rinjani bymekaar. Foto: AP Photo.

Die Indonesiese eiland Lombok is die afgelope naweek deur nóg ʼn aardbewing getref wat die dood van minstens 13 mense tot gevolg gehad het.

Die eiland het Sondag deur die dag verskeie skuddings van tussen 5,4 en 6,3 ervaar en dié skuddings is laat Sondagaand gevolg deur ʼn skudding wat 6,9 gemeet het.

Al die skuddings was in die noordoostelike dele van die eiland gesentreer. Time berig die skudding laat Sondagaand het verskeie kragtige naskokke tot gevolg gehad.

ʼn Verslaggewer van Associated Press op Lombok het gesê dié skuddings het wydverspreide paniek onder inwoners gesaai en kragonderbrekings veroorsaak.

Die skuddings wat deur die dag plaasgevind het, het ʼn modderstorting teen die berghange van Berg Rinjani, ʼn aktiewe vulkaan, veroorsaak. Volgens Time is sowat 1 800 huise vernietig asook voertuie en ʼn gemeenskapsaal. Volgens Sutopo Purwa Nugroho, woordvoerder van die plaaslike rampbestuuragentskap, het ʼn gemeenskapsaal skade gely tydens die skuddings vroeër vandeesmaand.

Die skudding van 7 wat Lombok op 5 Augustus getref het, het die lewe van 460 mense geëis, terwyl tienduisende huise vernietig en honderde duisende mense dakloos gelaat is.

Indonesië, die wêreld se grootste eilandgroep, is kwesbaar vir aardbewings weens sy ligging in die sogenaamde “ring van vuur” in die Stille Oseaan waar kragtige aardbewings en vulkaniese uitbarstings algemeen is.

In Desember 2004 het ʼn massiewe aardbewing ʼn ent weg van die Sumatra-eiland ʼn tsoenami veroorsaak wat die lewe van 230 000 mense in 12 verskillende lande geëis het. Meer as 160 000 mense is in Indonesië dood en die meeste van hierdie sterftes het in Aceh voorgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.