Talle sterf toe brand deur mark woed

Die toneel by die Gikomba-mark in Nairobi, Kenia, nadat ʼn verwoestende brand deur die mark en omliggende wonings gewoed het. Foto: Reuters/ANA

Minstens 15 mense is dood en 70 beseer nadat ʼn brand Donderdag deur die grootste mark in Nairobi, Kenia, en die omliggende huise gewoed het.

Kangethe Thuku, Nairobi se streekskoördineerder, het gesê die brand het omstreeks 02:30 by ʼn houtwerf begin. Die brand het deur die Gikomba-mark en nabygeleë woonstelle en informele huise gewoed voordat dit omtrent 90 minute later onder beheer gebring kon word.

Dit het ure lank geduur voordat brandbestryders daarin kon slaag om die vlamme heeltemal te blus.

Gikomba is geleë in ʼn digbevolkte gedeelte van Nairobi en is die hartklop van die reuse- informele mark in dié stad. Alles van tweedehandse klere tot hardeware word hier verkoop. Die mark het al verskeie kere onder brande deurgeloop.

Thuku het Donderdagmiddag gesê die dodetal van die brand staan op 15, maar daar is ʼn moontlikheid dat dit verder kan styg. “Ongeveer vyf mense is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar. Minstens nog nege liggame is in die afgebrande geboue vasgekeer. Ons wil eers bevestiging hê dat die geboue veilig is voor die liggame uitgehaal kan word,” het hy gesê.

Die toneel by die Gikomba-mark in Nairobi, Kenia, nadat ʼn verwoestende brand deur die mark en omliggende wonings gewoed het. Foto: Reuters/ANA

ʼn Reuters-fotograaf het vertel hoe liggame uit ʼn gebou gedra is en hoe mense deur die puin en as op die toneel gesoek het. Altesaam 70 mense is beseer waarvan sommige ernstige brandwonde opgedoen het.

Sommige van die oorledenes het doodgebrand, terwyl ander gesterf het weens die rook en gasse wat hulle ingeasem het terwyl hulle probeer het om hul eiendom te red.

Die meerderheid van die slagoffers is na die Kenyatta National Hospital geneem. ʼn Woordvoerder van die hospitaal het gesê die hospitaal staan gereed om nog slagoffers te ontvang indien nodig.

Joseph Ole Tito, polisiebevelvoerder van Nairobi, het gesê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

Red eers jou self en bekommerd jou later oor jou besttings, gelukkig het hulle darem ‘n hospitaal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.