Talle mense is dood nadat ʼn vliegtuig van US-Bangla Airlines Maandag by Katmandoe se internasionale lughawe neergestort het.
Manoj Neupane, ʼn woordvoerder van Nepal se polisie, het kort ná die ongeluk bevestig minstens 39 mense het gesterf. CNN het egter berig dié dodetal het intussen tot 49 gestyg.
Volgens Neupane is die liggame van 31 passasiers in die wrak van die vliegtuig gevind. Talle beseerdes is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, waar nog mense aan hul beserings beswyk het.
Die vliegtuig het in Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, opgestyg en het neergestort toe dit by die lughawe in Katmandoe wou land. Daar was 71 mense aan boord die vliegtuig, wat 67 passasiers en vier bemanningslede insluit.
CNN berig volgens ʼn woordvoerder van die lughawe het die vliegtuig toestemming gehad om vanuit ʼn suidelike rigting op die aanloopbaan te land, maar het die vliegtuig om ʼn onbekende rede die aanloopbaan vanuit ʼn noordelike rigting genader.
Die vliegtuig was reeds naby die grond toe dit van die aanloopbaan af geswenk, neergestort en in vlamme uitgebars het.
Volgens BBC was 33 van die passasiers van Nepal afkomstig, 32 van Bangladesj, een van China en een van die Maldives.