Talle sterf toe trok in skare inploeg

Argieffoto

Talle mense is dood en verskeie ander beseer toe ʼn vragmotor Woensdagaand in Guatemala in ʼn skare ingeploeg het.

Die voorval het in die Nahula- munisipale distrik in die Solola-provinsie van dié Sentraal-Amerikaanse land wes van Guatemala Stad gebeur.

Pres. Jimmy Morales het in ʼn twiet bevestig dat meer as 30 mense in die ongeluk gesterf het. Sky News berig altesaam 32 mense is in die ongeluk dood. Al Jazeera berig ook dat die dodetal meer as 30 is.

Verwarring het egter ontstaan nadat plaaslike media vanoggend ʼn laer dodetal berig het. Prensa Libre het berig 18 liggame is op die ongelukstoneel gevind.

Morales het gesê owerhede bied tans ondersteuning aan die slagoffers se families. Hy het namens die regering sy medelye met die naasbestaandes van die slagoffers betuig.

Volgens ʼn ooggetuie het ʼn skare mense in die donker langs ʼn pad gestaan en kyk na ʼn ander padongelukstoneel toe ʼn swaarvragmotor in hulle vasgejaag het. Prensa Libre berig daar was vroue en kinders onder die slagoffers.

Daar is tans geen aanduiding of die voorval met terreur verband hou nie. The Independent berig Cecilio Chacaj, die woordvoerder vir die plaaslike brandweerdienste, het gesê dit lyk asof die vragmotorbestuurder nie die mense langs die pad gesien het nie. Die vragmotor het glo sonder hoofligte gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

Uiters tragies. Mag ons leer hieruit om nie as nuuskieriges saam te drom by ‘n ongeluk waar jy ‘n oorlas maak van jouself en eerder jou ry moet kry.

L ·

Ek woon in Guatemala, nie te ver van die dorpie af nie. Die Interamericana is basies Guatemala se N1 maar hier in die hooglande is dit vol skerp draaie en steil afgronde langs die pad. Hier is heelwat ondersteuning vir die vragmotorbestuurder want hoe kon hy betyds en in die donker ‘n skare mense in die pad sien en waarheen sou hy kon uitswaai?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.