Talle vlugte na China gestaak

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

British Airways en die laekostelugrederye Lion Air en Seoul Air tel onder die lugrederye wat vlugte na China staak te midde van die gevreesde koronavirus wat reeds meer as 130 lewens in dié land geëis het.

Verskeie ander lugrederye waaronder Finnair, die Hongkong-gebaseerde Cathay Pacific en Jetstar Asia, wat in Singapoer gesetel is, het intussen vlugte na China beperk weens ’n dalende aanvraag.

British Airways het Woensdag gesê alle vlugte na en van die vasteland van China word onmiddellik opgeskort, nadat die Britse regering sy burgers aangeraai het om nie onnodig na die land te reis nie.

Die lugredery vlieg daagliks tussen Heathrow in Londen en Sjanghai en Beijing.

Air Seoul was die eerste laekostelugredery om vlugte na China te staak. Dit sluit in vlugte na die Chinese stede Zhangjiajie en Linyi.

Die Indonesiese laekostelugredery Lion Air sê hy het reeds meer as 50 vlugte na China gekanselleer. Die vlugte is van vyf internasionale lughawens in Manado, Surabaya, Djakarta, Batam en Denpasar in Bali. Dit sluit ook 15 Chinese lughawens in.

Hongkong-lugrederye besnoei hul vlugte na China met die helfte teen die einde van Maart.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Cathay Pacific Group het op sy beurt gesê sy vlugte na 24 bestemmings op die vasteland van China sal weekliks tot 240 verminder word. Dié maatskappy besit Cathay Pacific Airways, Air Hong Kong, Cathay Dragon en Hong Kong Express.

Finnair, wat in Helsinki in Finland gesetel is, het sy vlugte na Beijing se Daxing Internasionale Lughawe tot Maart gekanselleer, sowel as sy vlugte wat twee keer per week na Nanjing vlieg.

Finnair sal wel voortgaan om vlugte na vier ander Chinese bestemmings op die vasteland, waaronder die Beijing Capital Airport, te bedryf.

Jetstar Asia het gesê sy vlugte na die Chinese stede Hefei, Guiyang en Xuzhou is van Donderdag tot einde Maart tydelik opgeskort weens ʼn daling in aanvraag.

Asiana Airlines, die tweede grootste lugredery in Suid-Korea, gaan sy vlugte van volgende maand na die Chinese stede Guilin, Changsha en Haikou opskort.

Kazakstan, ʼn buurland wes van China, het Woensdag aangekondig dat hy van plan is om alle vlugte, treine en busse na dié land te staak. Hy gaan ook nie meer visums aan Chinese burgers uitreik nie.

Daar was voor dié aankondiging altesaam 24 vlugte per week van Kazakstan na China, waaronder ʼn daaglikse vlug na Ürümqi, die hoofstad van Xinjiang.

Die Japanse JAL het gesê hy verander nié sy vlugplanne na China nie, terwyl die Duitse lugdiens Lufthansa gesê dat hy die situasie baie noukeurig dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kruger ·

Wat van SA? Alle lande berei voor. SA se hy is gereed maar laat tog Chinese inkom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.