Talle vrae ná seun van pretpark-mallemeule afval

Tyre Sampson (Foto: Twitter)

Die ouers van die 14-jarige Tyre Sampson soek antwoorde nadat hul seun Donderdag van ʼn bewegende mallemeule by ʼn pretpark in Florida in die VSA na sy dood geval het. Hulle het die afgelope naweek prokureurs aangestel om hulle te help om duidelikheid oor hul seun se dood te vind.

Tyre – ʼn leerder aan die City Garden Montessori-skool in St. Louis, Missouri, het die aand tydens die FreeFall-valtoringrit by ICON Park in Orlando afgeval.

Dié pretrit – wat in Desember geopen het – neem besoekers tot ʼn hoogte van 131 m en kantel vir ʼn oomblik of twee voordat dit teen ʼn spoed van ongeveer 121 km/h na benede sak.

CNN berig ondersoekbeamptes ondersoek die tiener se dood om te bepaal of die voorval ʼn ongeluk of opsetlik was. Uit ʼn aanvanklike ondersoek “blyk dit dat dit ʼn verskriklike tragedie was”, het die sheriff van Orange County, John Mina, gesê.

Nalatigheid word ondersoek

Die FreeFall-valtoringrit [Foto: Twitter]

Sky News berig die gesin se prokureurs – Ben Crump en Bob Hilliard – ondersoek nalatigheid aan die pretpark se kant wat daartoe kon bydra dat Tyre uit die mallemeule se stoel geval het. Op grond van sy lengte (1,95 m) en gewig (154 kg) ontstaan daar vrae of sy veiligheidsgordel behoorlik vasgemaak was voordat die rit begin het.

In ʼn video wat aanlyn geplaas is, kan gesien word hoe ʼn werknemer skree: “Veiligheidsgordel! Veiligheidsgordel!” kort voor die rit begin.

ICON Park het in ʼn verklaring gesê hy werk ten volle saam met die ondersoek. Die pretpark bly voorlopig vir lede van die publiek gesluit.

Volgens Hilliard gaan hul ondersoek fokus op die opleiding van die personeel wat daardie aand aan diens was omdat “hulle Tyre dalk nie behoorlik beveilig het voordat die rit ʼn aanvang geneem en opwaarts beweeg het nie”.

Volgens John Stine van Slingshot Group – wat die rit bestuur – is personeellede verantwoordelik om seker te maak almal is goed vasgemaak voordat die rit begin.

Die prokureurs is ook besig om enige ooggetuies op te spoor wat moontlik meer inligting oor die ongeluk kan verskaf.

Blink toekoms

Crump het aan die media gesê dat Tyre die soort tiener was van wie elke ouer droom – ʼn ererolstudent, ʼn aspirant-atleet en ʼn goedhartige persoon wat vir ander omgegee het.

“Hierdie gesin is geskok en hartseer oor die verlies van hul seun. Nodeloos om te sê, sy familie is absoluut verwoes,” het Crump gesê.

Volgens Tyre se familie wou dié jong lat ná skool professioneel Amerikaanse voetbal beoefen. Wendy Wooten, sy stiefma, het gesê dit was sy droom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Samuel ·

Dit is uiters tragies. Hartseer. Die moontlikheid is seker groot dat nalatigheid ‘n rol kon speel. Ek wens sy naasbestaandes baie sterkte toe.

Moedeloos ·

Sjoe dit is hartseer maar jitte jy maak mos ook self seker dat jy behoortlik en veilig vasgegordel voordat die rit begin. Sterkte vir die ouers

Nommer 7 ·

Maandag 21ste, ook ‘n vrou en haar 11 jarige kind 6 meter van ‘n mallemeule afgeval in Bellville, maar niemand berig daaroor nie. Ek weet nie wat die beserings was nie.

Sandra ·

Dit was in Die Burger, die seun is al ontslaan, weet nie van sy ma nie. Beriggewing egter bietjie teenstrydig.

Kobus ·

14 Jaar ou, 1,95 m en weeg 136kg. ‘n Goot seun. Dalk was die veiligheidsgordel ongemaklik en het hy dit self losgemaak of dalk was die gespe nie behoorlik vas nie. Geld die kennisgewing ” op eie risiko” in so ‘n geval?

Fae Fubar ·

Op die videomateriaal kan duidelik gesien word dat die seun se veiligheidsharnas nie vas was nie. Dit kon nie eers oor sy maag pas nie, wat nog te sê tussen sy bene vasknip. Myns insiens moes hulle hom nooit toegelaat het om op die rit te klim nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.