Talle vrae oor nuwe Boeing ná ongeluk

(Argieffoto)

Die ramspoedige vliegtuigongeluk wat Sondag die lewe van al 157 mense aan boord geëis het, het sedertdien talle vrae rakende die betrokke Boeing-vliegtuig na vore gebring.

Ethiopian Airlines se Boeing 737 Max 8 wat in die ongeluk betrokke was, is in November verlede jaar aan die lugredery gelewer.

Parallelle kon gevolglik getrek word met die Lion Air-vliegtuigongeluk van Oktober verlede jaar toe Lion Air se 737 Max 8 net soos Ethiopian Airlines se Boeing enkele minute ná opstyg geval het. Dié ramp naby die Java-kus van Indonesië het destyds die lewe van 189 mense aan boord geëis.

Veiligheidskenners waarsku egter om nie te vinnig parallelle tussen dié twee vliegongelukke te trek nie.

William Waldock, ʼn lugvaartveiligheidsprofessor aan die Amerikaanse Embry-Riddle-universiteit, het gesê daar is wel vrae aangesien dieselfde soort vliegtuig op dieselfde manier geval het – albei neus eerste wat die wrak in stukke gelaat het. “Ondersoekers glo nie in toeval nie,” het Waldock verduidelik.

Waldock het gesê die vlugbestuur- en die outomatiseringstelsel van die Max-Boeing sal nagegaan word. Hy meen egter dat dit in dié stadium te vroeg is om te spekuleer aangesien meer inligting eers bekend sal wees nadat ondersoekers die vlugopnemer opgespoor en ontleed het.

Alan Diehl, ʼn voormalige ondersoekbeampte van die Amerikaanse nasionale vervoerveiligheidsraad, het gesê dat albei vliegtuie se bemanning probleme kort ná opstyg ondervind het.

Hy sê ook dat daar groot variasies in vertikale spoed gedurende albei se opstyg was wat ʼn potensiële beheerbaarheidsprobleem ten opsigte van dié Ethiopiese vliegtuig voorspel.

Diehl verduidelik dat daar egter baie moontlike verduidelikings kan wees insluitend enjinprobleme, ʼn fout deur die vlieënier, gewigslading of sabotasie. Hy noem ook dat die vliegtuig moontlik voëls kon getref het.

Volgens Diehl het die Ethiopiërs ʼn goeie reputasie, maar ondersoekers sal nietemin na die instandhouding van die vliegtuig kyk, aangesien dieselfde probleem in die Lion Air-ongeluk moontlik kon opduik.

Tewolde Gebremariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, het ná afloop van Sondag se tragedie aan verslaggewers gesê dat ʼn instandhoudingsinspeksie geen probleme met die vliegtuig voor Sondag se vlug opgetel het nie.

“Dit is dus moeilik om enige parallelle met die Lion Air-ongeluk te trek,” het Harro Ranter, stigter van die lugvaartveiligheidnetwerk, wat inligting oor vliegongelukke wêreldwyd saamstel, gesê. “Ek hoop mense sal wag vir die eerste uitslae van die ondersoek in plaas daarvan om gevolgtrekkings te trek wat gegrond is op die min feite wat ons tot dusver het,” het hy gesê.

Indonesiese ondersoekers stel ook ondersoek in op te bepaal of foutiewe lesings van ʼn sensor moontlik kon veroorsaak het dat die Ethiopian Airlines-vliegtuig met sy neus eerste geval het. Die outomatiese stelsel skop in as sensors ʼn probleem aandui wat die neus van die vliegtuig laat sak.

Data van die Lion Air-vliegtuig het op ’n soortgelyke probleem tydens vier vlugte gedui hoewel dié lugredery aanvanklik gesê dat die probleem opgelos is.

Diehl voer aan dat Ethiopian Airlines bewus moes wees van dié probleem met sensors weens die nuusdekking van die Lion Air-ongeluk.

Die Boeing 737 is die vliegtuig wat in die geskiedenis nog die meeste aangekoop is. Die Max-uitgawe van dié vliegtuig is die jongste op die mark met meer brandstofdoeltreffende enjins.

Vervaardigers het tot dusver ongeveer 350 737 Max-vliegtuie gelewer en het meer as 5 000 bestellings van dié vliegtuig om te lewer. Dié model word reeds deur baie lugrederye gebruik, waaronder America, United en South West.

Die Lion Air-voorval het ook nie die verkope van dié model beïnvloed nie. Boeing se aandele het met byna 7% op die dag van die Lion Air-ongeluk geval. Sedertdien het dit met 26% gestyg met ’n winstoename van 4% in die Standard & Poor’s 500-indeks.

Die Chinese burgerlugvaartadministrasie het egter sedert die afgelope naweek se ongeluk alle Chinese lugrederye aangesê om sy vlugte met die Boeing 737 Max 8-vliegtuie voorlopig te staak.

Die owerheid het gesê dié besluit is geneem op grond van passasiers se veiligheid aangesien dié ongeluk die tweede van sy soort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

liefie ·

Gaan Kulula en Comair die vliegtuie onttrek soos Sjina? Mens sal so dink.

Skapie ·

My man was op daardie vliegtuig van Jhb na Addis Abeba en het met die einste vliegtuig geland op Addis Abeba. Gelukkig het sy roete verander en het hy nie weer aanboord hierdie vliegtuig gegaan na hy geland het nie.

Kloppers ·

Ek is deel van span wat werk op toneel, en dit is alles behalwe mooi. My hart gaan uit na al die geliefdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.