Talle vrae oor ware stand van koningin se gesondheid

Die 95-jarige koningin Elizabeth vier volgende jaar haar 70ste jaar op die troon. (Foto: Frank Augstein/AFP)

Daar is al hoe meer vrae oor die gesondheid van die 95-jarige koningin Elizabeth II nadat sy toetse ondergaan en ʼn aand in die hospitaal deurgebring het, terwyl paleisamptenare gesê het sy rus net tuis.

Buckingham-paleis het Woensdagoggend gesê die koningin het ʼn besoek aan Noord-Ierland gekanselleer nadat sy mediese advies gekry het om te rus.

Paleisamptenare het Donderdag toegegee dat sy inderwaarheid oornag in ʼn hospitaal was nadat The Sun ʼn berig daaroor geplaas het.

Die koningin is van die Koning Edward VII-hospitaal na Windsor-kasteel, wes van die hoofstad Londen, geneem en is “in goeie luim” het amptenare gesê.

Eerste minister Boris Johnson het reeds wense vir die koningin se beterskap gestuur, het sy woordvoerder gesê.

Die koningin is verlede week vir die eerste keer met ‘n kierie by ‘n groot openbare byeenkoms gesien. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Die Britse persvereniging het berig die hospitaalbesoek is aanvanklik nie bekend gemaak nie omdat dit na verwagting nie lank sou duur nie en gedoen is om die koningin se privaatheid te beskerm. Weens “praktiese oorwegings” het sy oornag in die hospitaal gebly omdat dit te laat was om die tog van 42 km terug na Windsor te onderneem.

Die koningin is vantevore al in die eksklusiewe private kliniek, wat ook deur ander koninklikes besoek word, behandel. Die koningin het in 2013 ook ʼn nag daar deurgebring toe sy vir maagdermontsteking behandel is.

Die monarg het ʼn besige paar weke agter die rug en het die afgelope ruk talle openbare byeenkomste bygewoon. Dit het ʼn onthaal Dinsdag vir internasionale sakeleiers by Windsor-kasteel ingesluit.

Die koninklike skrywer Robert Hardman het aan BBC gesê daar sal ʼn “mate van irritasie by die paleis” wees omdat die nuus oor die koningin se hospitalisering rugbaar geword word.

Hardman sê die waardigheid van die paleis moet gehandhaaf word en daar was waarskynlik vrese dat die media in groot getalle by die hospitaal sou kamp opslaan.

Koningin Elizabeth en die Britse eerste minister Boris Johnson groet sakeleiers tydens ‘n geselligheid verlede week. (Foto: Alastair Grant/AFP)

Die BBC se koninklike korrespondent, Nicholas Witchell, sê egter paleisamptenare het nie ʼn “omvattende en regverdige prentjie gegee van wat aangaan nie”.

“Gerugte en waninligting versprei en floreer wanneer daar ʼn afwesigheid aan goeie, billike en betroubare inligting is.

“Ons moet hoop ons kan staatmaak op wat die paleis nou vir ons vertel,” sê Hardman. Hy sê “in ʼn goeie luim” is boonop ʼn sêding wat die paleis afstof en gebruik op tye soos hierdie.

Richard Palmer, ʼn koninklike korrespondent vir Daily Express, het die stelling ook as ʼn “paleis-cliché” bestempel.

“Koninklike bronne was ywerig om die indruk te skep dat sy dinge net oordoen het, maar hulle gaan dalk nou sukkel om mense te oortuig,” sê hy.

Die koningin is die staatshoof in die Verenigde Koninkryk (VK), asook van lande soos Australië, Kanada en Nieu-Seeland.

Voorbereidings word reeds getref vir die viering van haar platinum-herdenkingsjaar wanneer sy volgende jaar haar 70ste jaar op die troon vier.

Volgens die paleis was die koningin Donderdagoggend weer agter haar lessenaar en het sy weer pligte wat nie te veeleisend is nie, opgeneem.

Die bekendmaking sal egter vrese oor haar gesondheid vererger, asook die tol wat haar openbare pligte op haar gevorderde ouderdom eis.

Koningin Elizabeth en haar oorlede man, prins Philip in Junie verlede jaar. Die prins is kort voor sy 100ste verjaardag dood. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Die koningin se man, prins Philip, is in April vanjaar kort voor sy honderdste verjaardag dood. Dit was enkele maande nadat hy vier weke in die hospitaal was.

Die monarg ry steeds perd en bestuur motor op haar private landgoed en was veral aan die gang sedert sy aan die begin van die maand van Balmoral in Skotland teruggekeer het. Verlede week is sy vir die eerste keer by ʼn groot openbare geleentheid met ʼn kierie gesien, maar paleisamptenare het gesê dit hou nie verband met enige spesifieke gesondheidstoestand nie.

Die koningin sal na verwagting steeds ʼn rits byeenkomste wat verband hou met die Verenigde Nasies se klimaatberaad in Glasgow volgende maand bywoon.

“Sy haat dit as mense in die algemeen ʼn ophef van haar maak, maar veral wat haar gesondheid betref,” sê Hardman.

“Dit is egter ʼn weerspieëling van die toegeneentheid en besorgdheid wat die hele land vir haar het. Die feit dat elke nuusbulletin en koerant met dié nuus lei, bewys dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frank John ·

Shoe, die auntie byt vas aan daai troon. Wonder waneer gaan dy die volgende koning kans gee. Haar kleinseun raak al oud.

annie ·

Dit wil blyk of die Britse queen in haar amp wil aanbly tot haar dood. Prins Charles is self al ‘n krom omie wat selfs al effens geleer om sy mond soms toe te hou. Vroulief wat volgens Diana graag diens sou wou doen as die koning se wederhelf wag al dekades vir die ou dame om die troonstoel te ontset. Maar Elizabeth is gewoond aan haar plekkie in die eina-Britse sonnetjie op die paleis se agterstoepie. Ons in die agterste gestoeltes van die monargie sal die grootse spel van ver gadeslaan; ons lamferlappies gestysel en gestryk bo in die middelste laai van die ou laaikas vir die volgende hoofstuk van the firm.

Nici ·

‘Dinge oordoen het’ is nie ‘n goeie vertaling nie. Sy het ‘haarself ooreis’, is meer korrek.

Barney ·

Hulle sal na die plandemie bekend maak sy is dood aan iets simpel soos covid en dan sal ou charles gekroon word en dan gaan die poppe dans. Daai hele bloed lyn moes in elk geval nooit gekroon gewees het nie. Haar pa se broer was die oudste seun en waardevolle koning, nie haar alcholistiese kranksinnige pa wat ń oppertunis was nie. En toe gaan die simpel queen en bemaak die troon aan haar man se Griekse nageslag. Hierdie hele koning koning ding moet eintlik uitsterf.

AW ·

Sy hou aan en uit, want sy weet, haar Seun is nie bevoeg om die Troon te sit Nie !!

Waarnemer ·

Gee vir hierdie dame n BELLS…sjoe,sewentig jaar in bewind!!!Watter monarg in die wereld kan dit nadoen?

Aknot ·

Die ou tannie het nog nooi verskoning gevra vir kampe gedurende Boereoorlog nie.

Frank John ·

God stel konings aan en Hy ontroon hulle. Solank sy in daai Posisie bly is dit omdat God dit so besluit het ongeag haar besluite en redes. Sy is nie in beheer daarvan nie. Nie werklik nie. Byt vas antie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.