Taylor Swift se nuwe album is hier, en rekords spat reeds!

Taylor Swift se jongste album, ‘The Tortured Poets Department”, is nou beskikbaar. (Foto: Facebook/Taylor Swift Official)

As daar nou ʼn groep mense is wat lekker naweek gaan hou, is dit Taylor Swift-aanhangers, of sogenaamde “Swifties”.

Die megaster het Vrydag om middernag haar hoogs verwagte album The Tortured Poets Department die wêreld ingestuur en die internet behoorlik laat gons.

Daar word bespiegel dat die album se naam na Swift se ekskêrel, die Britse akteur Joe Alwyn, verwys. Alwyn en sy mede-akteur Paul Mescal het in 2022 onthul dat hulle ’n kletsgroep met die naam “The Tortured Man Club” het.

Aanhangers kan uitsien na samewerkings met kunstenaars soos Florence + The Machine asook Post Malone, wat ook op die album se eerste enkelsnit, “Fortnight”, te hoor is.

Die Grammy-bekroonde musikant het boonop twee uur ná die bekendstelling vir ʼn dubbele verrassing gesorg met nuus dat dié album uit twee dele bestaan met ʼn bykomende 15 liedjies.

“Ek het die afgelope twee jaar soveel gemartelde poësie geskryf en wou dit alles met julle deel, so hier is die tweede aflewering van TTPD: The Anthology met 15 ekstra liedjies. En nou is die storie nie meer myne nie … dit is alles joune,” het die 34-jarige in die vroeë oggendure in ʼn Instagram-plasing geskryf.

Die stromingsdiens Spotify het Donderdag aangekondig dat Swift se 11de album teen Donderdag 18 April sy rekord vir die album wat die meeste vooraf gestoor is, gebreek het.

Dít nadat The Tortured Poets Departement na bewering vroeg aanlyn uitgelek het.

Die BBC het berig dat ʼn verdagte Google Drive-skakel, wat die eerste 17 liedjies van die album bevat het, die rondtes op sosiale media gedoen het.

Op X, voorheen Twitter, het sommige aanhangers gesê hulle sal hul nuuskierigheid liefs in toom hou tot die album se amptelike bekendstelling, terwyl ander die sosialemediaplatform met vals skakels oorstroom het om die oënskynlike lekkasie te “begrawe”.

Dieselfde het met snitte op Swift se vorige trefferalbum, Midnights, gebeur sonder om strome of aanlyn verkope daarvan te belemmer.

Lof vir die album se treffende lirieke en vervaardigingskuns van Swift se musikale medewerker Jack Antonoff het van publikasies soos Variety, Rolling Stone Magazine en The Gaurdian ingestroom.

Die stroomdiens Spotify het ‘n tydelike uitstalling ter viering van Swift se nuwe album in Los Angeles in die VSA gehad. (Foto: Rodin Eckenroth/AFP)

Dit volg nadat die sangeres reeds ʼn spogjaar van sukses agter die rug het.

Maroela Media het onlangs berig dat Swift deur Forbes-tydskrif as een van die wêreld se rykste mense aangewys is en dat sy boonop geskiedenis gemaak het as die eerste musikant wat dié mylpaal net op grond van haar musiek, eerder as reklame-ooreenkomste, bereik het.

Dit is die eerste keer dat die 34-jarige sanger dié lys betree, met ʼn fortuin van $1,1 miljard (meer as R20 miljard).

Benewens dat haar deuntjies dollars laat inrol, het die megaster die afgelope jaar geskiedenis by die Grammy-toekennings gemaak toe sy die eerste kunstenaar ooit geword het wat vier keer die Grammy-toekenning vir album van die jaar gewen het.

Sy is in Desember 2023 ook as die Amerikaanse tydskrif Time se persoon van die jaar aangewys.

Die sogenaamde “Swift-effect” het selfs na sport oorgespoel. Haar bloeiende romanse met die Kansas City Chiefs-voetbalster Travis Kelce het die National Football League (NFL) se TV-kykersgetalle laat toeneem, veral onder jong vroue.

Die BBC berig die handelsmerkwaarde van die NFL en die Chiefs het sedert September verlede jaar met $331 miljoen (nagenoeg R6 miljard) verhoog. Verkope van Kelce se rooi Chiefs-voetbaltrui het ook met 400% toegeneem sedert Swift die eerste keer in ʼn rooi pasgemaakte weergawe by ʼn NFL-wedstryd opgedaag het.

Bronne: AFP, BBC, Variety, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Juanita ·

Ek het klaar my gunsteling liedjie op die album :-) #swifty

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.