Taylor Swift trek Spotify plat

Taylor Swift se nuwe album het Spotify platgetrek. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

Die popsangeres Taylor Swift se splinternuwe en 10de album, Midnights, het soveel aanhangers na musiekstromingsdienste gelok dat die stromingsreus, Spotify, in die proses platgetrek is.

Die album, wat uit 13 liedjies bestaan, is Vrydag om middernag uitgereik, met ’n spesiale 20-liedjie-weergawe daarvan wat om 03:00 die oggend stromingsdienste getref het.

Dié tegniese glips was egter gelukkig van korte duur en is binne ’n uur vandat die eerste luisterprobleme kop uitgesteek het, opgelos.

“Swifties”, soos wat daar na Swift se aanhangers verwys word, het nie op hulle laat wag nie.

“Nog voordat die horlosie middernag op 22 Oktober kon tref, het Taylor Swift die Spotify-rekord vir die mees gestroomde album in een dag gebreek,” lui ’n boodskap wat Spotify op Twitter gedeel het.

Die album se 13 liedjies vertel “die storie van 13 slapelose nagte regdeur my lewe”, het Swift op Twitter verduidelik.

Die 32-jarige sangeres, wat aan die begin van haar loopbaan hoofsaaklik country-musiek gemaak het voordat sy haar skuif na popmusiek gemaak het, het musiekkritici bekoor met dié nuwe album.

Die langer weergawe van die album wat ’n paar uur ná die oorspronklike een uitgereik is, het aanhangers ’n kykie in die skepproses van Midnights gegee.

“Die sewe ekstra liedjies is liedjies wat geskryf is op reis na die toweragtige 13 liedjies op Midnights,” het Swift op Twitter verduidelik.

Kyk na die musiekvideo van “Anti-hero”, een van die liedjies op Midnights hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aggie ·

Ek is baie in my skik met Spotify. Ek het ure en ure se albums wat wat ek in my kar en huis speel. Ek het na die dame se musiek geluister – nie my tipe nie, maar miskien is ek al te oud vir haar soort musiek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.