TB Joshua nooi familielede vir Kersfees

TB Joshua van die Synagogue Church of All Nations in Lagos, Nigerië Foto: emmanueltvuk.wordpress.com

TB Joshua van die Synagogue Church of All Nations in Lagos, Nigerië Foto: emmanueltvuk.wordpress.com

TB Joshua, ʼn prediker van Nigerië, sal glo gesinslede van slagoffers toe ʼn gebou by sy kerk ineengestort het, na Lagos vlieg om Kersfees en Nuwe Jaar saam met hom te vier.

“Die profeet nooi die families van die afgestorwenes uit om Kersfees tyd by die sinagoge te kom spandeer saam met ander kerklidmate, en baie belangrik, die kersligdiens aan die einde van die jaar,” het Kirsten Nematandani, woordvoerder vir die Synagogue Church of All Nations, Maandag gesê.

Altesaam 44 gesinslede wat die aanbod aanvaar het, sal op Kersdag na Nigerië vlieg en op 2 Januarie terugkeer.

Altesaam 85 Suid-Afrikaners was onder die slagoffers toe ʼn gastehuis by die kerk op 12 September ineengestort het.

“Die doel is om tyd saam met die families te spandeer,” het Nematandani bygevoeg. “Ons besef hulle gaan deur ʼn moeilike tyd.”

Die kerk sal glo ook geestelike en emosionele bystand aan die gesinne bied en hulle sal ook met Joshua kan gesels. Hy finansier die hele reis insluitend vervoer, akkommodasie, etes en visumaansoeke.

Nematandani het gesê Joshua was nog altyd baie oop oor die voorval en hy sal “hierdie pad saam met die families stap en hulle deurgaans ondersteun”. Die families wat nie die aanbod kon aanvaar nie omdat hulle dokumentasie nie betyds gereed was nie of omdat hulle reeds ander planne gehad het, word genooi om in ʼn latere stadium die kerk te besoek.

Hy het gesê die families wat die kerk besoek sal hul tyd spandeer deur dienste en programme van “evangeliste en wyse manne” by te woon. “Hulle sal ook na die berg van gebed kan gaan om individueel kwaliteittyd te spandeer en met God te kan praat.”

Nematandani het ook sy medelye betoon namens die kerk vir die families van die 11 slagoffers wie se liggame nog nie na Suid-Afrika teruggebring is nie. Hy het gesê Joshua sal nie rus voordat die liggame huis toe gestuur is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.