Te koop: Wêreld se grootste trikeratops

’n Voorbeeld van ’n trikeratops-dinosourus (Natuurhistoriese Museum van Los Angeles). (Foto: Allie_Caulfield van Duitsland via Wikimedia Commons)

Big John, die grootste voorbeeld van die trikeratops‑dinosourus ter wêreld, sal volgende maand in Parys te koop wees.

Dié uitgestorwe reptiel se skouspelagtige skelet sal van 18 Oktober by die Drouot-veilinghuis te sien wees.

Hoewel dinosourusveilings dikwels onvoorspelbaar kan wees, word geraam dat Big John vir tussen 1,2 miljoen en 1,5 miljoen euro (tussen R20 miljoen en R26 miljoen ) sal verkoop.

Die dinosourus het ook ʼn uitvoerlisensie en daar is reeds verskeie moontlike kopers.

Die trikeratops is van die mees herkenbare dinosourusse as gevolg van die drie horings op die dier se kop – een by die neus en twee op die voorkop. Vandaar ook sy Latynse naam.

Big John blyk die grootste oorblywende voorbeeld van die trikeratops te wees. Hy is 66 miljoen jaar oud en sy skelet is sowat agt meter lank.

Sy skedel is sowat twee meter wyd en minstens 200 bene en groot horings is Dinsdag by die veilinghuis aanmekaargesit.

Big John se skelet is sowat 60% volledig, terwyl sy skedel 75% volledig is.

Hy is in 2014 in Suid‑Dakota in die VSA deur die geoloog Walter W Stein Bill ontdek en in Trieste in Italië gerestoureer.

Die verkoop van die dinosourus kom te midde toenemende entoesiasme vir dinosourusgeraamtes, met pryse wat verwagtinge dikwels ver oortref.

Die geraamte van ʼn skaars allosourus, een van die oudste dinosourusse, het onlangs vir meer as R457 miljoen in New York in die VSA verkoop.

Openbare museums en navorsingsentrums kan dikwels nie by private kopers kers vashou nie.

Verskeie dinosourusse wat in 2020 in Parys te koop was, het egter nie minimum verkoopspryse gehaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Die anc het mos hierdie tipe geld. Hulle kan hom sommer koop.

Esme

En voordat ons besef is daai gediertigheid deel van ons Landswapen. Kyk, as daar onnodige goed op die mark is, dan koop ‘n Suid-Afrikaner dit.