‘Te veel is al vermoor,’ sê prins William oor Gaza

Prins William kuier by die Britse Rooi Kruis in Londen. (Foto: X/KensingtonRoyal)

Prins William, die prins van Wallis, het Dinsdag ’n seldsame politieke verklaring uitgereik oor die konflik tussen Israel en Hamas en gevra het dat daar “so gou as moontlik ʼn einde aan die gevegte gemaak word”.

“Ek, soos soveel ander, wil so gou moontlik ’n einde aan die gevegte sien. Daar is ’n desperate behoefte aan verhoogde humanitêre steun aan Gaza. Dit is van kritieke belang dat hulp inkom en die gyselaars vrygelaat word,” lui die prins se verklaring.

“Soms is dit net wanneer daar voor die groot omvang van menslike lyding te staan gekom word dat die belangrikheid van permanente vrede tuisgebring word.

“Selfs in die donkerste uur moet ons nie swig voor wanhoop nie. Ek bly vashou aan die hoop dat ’n beter toekoms gevind kan word en ek weier om daaroor moed op te gee.”

Sy kommentaar volg nadat die Britse troonopvolger ʼn besoek aan die Britse Rooi Kruis in Londen afgelê het om meer oor hul humanitêre pogings in die Midde-Ooste te leer.

Prins William het aan ’n regstreekse videoskakelgesprek met Rooi Kruis-personeel deelgeneem, wat hom eerstehands oor hul werk in Gaza ingelig het. (Foto: X/KensingtonRoyal)

Hy het ook aan ’n regstreekse videoskakelgesprek met Rooi Kruis-personeel deelgeneem, wat hom eerstehands oor hul werk in Gaza ingelig het.

Die prins sal na verwagting verder dié maand met ander organisasies vergader wat humanitêre steun in Gaza verskaf en afsonderlik deelneem aan ’n sinagoge-gesprek met jongmense uit verskillende gemeenskappe oor antisemitisme.

Dit is uiters ongewoon vir die koninklike familie om kommentaar oor internasionale konflikte te lewer.

Alhoewel prins William se pa, koning Charles III, die staatshoof van die Verenigde Koninkryk sowel as 14 ander Statebondlande, van Kanada tot Australië en Jamaika is, is sy funksies slegs seremonieel.

Die bou van brûe tussen gelowe is egter ʼn saak wat die koning, wat vroeër vandeesmaand sy kankerdiagnose met die wêreld gedeel het, na aan die hart lê.

Hy het in sy eerste Kersfeesboodskap as ʼn gekroonde Britse monarg gepraat oor “die onderliggende universele waardes” wat deur verskillende godsdienste gedeel word in ’n tyd van “tragiese konflik”.

Sy kroningseremonie in Mei verlede jaar het ook geskiedenis gemaak as die eerste Britse een waarby leiers van ander gelowe as die Kerk van Engeland ingesluit is.

Bykomende bronne: BBC, AFP, Forbes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marous ·

Beveel dan diegene wat Israel aanval om dit onmiddelik te staak . Dan kan daar onderhandel word.

Manie ·

Ek sal eerder my mond tjoepstil hou as ek William is. Sy ouma het hom seker nie van die Engelse volksmoord op ons mense vertel nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Britte het baie bloed op hul hande. Wêreldwyd.

Jacobus ·

Manie jy slaan die spyker op sy kop. William moet eerder eis dat hamas alle gyselaars vrylaat dan sal die gevegte stop.

Niklaas ·

Weet die prins van die konsentrasiekampe tydens die Anglo Boere oorlog in SA ? Gaan hy betrokke raak by die Rusland teen Oekraine oorlog ? Dit lyk darem nie asof hy kant kies nie. Almal sal graag ‘n einde aan die Gaza konflik wil sien.

annie ·

Glo William dat elke woord van Hamas en kaders die volle waarheid is en dat elke mens wat in ‘n oorlog sterf as vermoor aangedui kan word. Hy moes in ‘n paleis grootgeword het om so onkundig te wees.

Janine ·

Sjoe! Nes die anc vergeet julle Britte gerieflikheidshalwe al die bloed aan JUL hande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.