Teenstrydige berigte oor Trump se toestand

Pres. Donald Trump gaan voort met werk in sy hospitaalsuite in die Walter Reed- nasionale mediese sentrum. (Foto: Joyce N. Boghosian/The White House via AP)

Daar was Vrydag “kommer” oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se toestand en die volgende twee dae gaan uiters belangrik wees in sy stryd teen Covid-19, het die president se personeelhoof laat Saterdag gesê.

Dit is in teenstelling met ʼn veel rooskleuriger prentjie wat Trump se dokters kort tevore oor sy toestand gegee het. Trump word tans in die Walter Reed- nasionale mediese sentrum, ʼn weermaghospitaal, vir die virussiekte behandel. Sy dokters het vroeër groot moeite gedoen om te benadruk dat Trump nie in die Withuis bykomende suurstof ontvang het voordat hy na die hospitaal oorgeplaas is nie.

Trump was Sondagoggend steeds in die hospitaal. Hy het Saterdagaand in ʼn video uit sy hospitaalsuite sy eie opsomming van sy toestand gegee en gesê hy begin beter voel en hoop om binnekort terug te wees.

Saterdagaand het Trump se hoofdokter versigtig optimisties gesê dat die president “nog nie buite gevaar is nie”.

Ure gelede het Mark Meadows, Trump se personeelhoof, buite die hospitaal gesê: “Ons is nog nie op ʼn duidelik herstelpad nie.”

Die veranderende, en soms teenstrydige weergawes skep ʼn geloofwaardigheidskrisis vir die Withuis op ʼn bitter belangrike tyd: Die president se gesondheid en die land se leierskap is op die spel. Terwyl Trump na verwagting nog etlike dae in die hospitaal gaan deurbring en die presidentsverkiesing al nader kom, hou Amerikaners sy toestand angstig dop.

Trump kom Vrydag by die hospitaal aan vir behandeling nadat hy Covid-19 opgedoen het. (Foto: Jacquelyn Martin/AP)

Die president se gesondheid verteenwoordig ook ʼn nasionale veiligheidskrisis van groot belang, nie net vir die Amerikaanse regering nie, maar ook vir lande wêreldwyd – goedgesind of andersins.

Saterdag se mediakonferensie deur dr. Sean Conley en ander dokters betrokke by Trump se behandeling het boonop meer vrae geskep as wat dit beantwoord het. Conley het herhaaldelik geweier om te sê of die president suurstof benodig het – al is hy telkens daaroor gepols – en hy wou ook nie besonderhede bekend maak soos wat Trump se koors was nie. Conley het ook onthul dat Trump reeds Donderdag simptome van Covid-19 begin toon het, inligting wat nie tevore bekend was nie.

Conley het die grootste gedeelte van die mediakonferensie gebruik om verslaggewers se vrae te probeer omseil.

“Donderdagaand geen suurstof nie. Niks op hierdie stadium nie. En gister saam met die span, terwyl ons almal daar was, was hy nie op suurstof nie,” het Conley gesê.

Volgens ʼn ingeligte bron het Trump egter wel Vrydagoggend suurstof ontvang voordat hy later die dag na die hospitaal geneem is.

Conley het gesê Trump se simptome, ʼn ligte hoes, verstopte neus en moegheid, verbeter en die president het die afgelope 24 uur geen koors gehad nie. Trump gebruik ook aspirien, wat ʼn mens se liggaamstemperatuur kan verlaag en die simptoom kan teenwerk of versteek.

“Hy is baie opgeruimd,” het dr. Sean Dooley, nog ʼn dokter, gesê. Volgens hom is Trump se hart-, nier- en lewerfunksie normaal en sukkel hy nie om asem te haal of rond te loop nie.

Conley het ook gesê Trump stap rond in sy mediese suite en gaan steeds voort met sy werk.

“Hoewel [hy] nie buite gevaar [is] nie, is die span versigtig optimisties,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Dries ·

Wonder wat gaan die liberaliste nou weer uithaal uit hierdie toespraak om die President te verguis

Jacobus ·

Hulle moet maar nie te hard wens nie. ‘n Biden Amerika sal ‘n terugslag wees vir Amerika.

Pieter J ·

ń Biden Amerika Sal ń gatslag wees vir Amerka en die hele westerse wêreld. Al stem ń mens nie noodwendig altyd saam met sy doen en late nie is dit nog ń duisend keer beter as wat die spul liberales weer aan bewind kom.

Lanfear ·

Ag asb, dit is klaar ‘n reuse terugslag vir Amerika dat Trump en Biden hul kandidate is vir president. Is hierdie twee regtig die beste wat die VSA kan oplewer? Wanneer laas het die VSA ‘n ware bekwame president gehad…

JohanR ·

Word beter en gesond Donald. Die alternatief is Joe Biden. Soos om Nkosazana Dlamini-Zuma in SA as president te he!

JBN ·

Trump ons bid vir jou, sterkte en word gou gesond.
TRUMP 2020

Stefan ·

Maar hy het mos gesè, dis somer ‘n griepie en maskers en al die goed is oordrewe, dan is die hospitaal mos nou ook erg oordrewe.

Human ·

En nou is hy so mak soos ‘n lammetjie. Die bravade het soos mis voor die son verdwyn. O wee! die werklikheid en waarheid maak seer.

Robert ·

Aaai en tot die berig is so negatief, klink my al die media hoop dit eindig sleg.

madels ·

Jammer, Ek kan dit nie help nie maar ek hou baie van Trump. N man van sy posisie en status en tog is hy baie plat op die aarde waar dit kom by die publiek. Mag hy nog BAIE lank lewe en Amerika regruk wat heeltemal die pad byster geraak het.

Kobus ·

Plat op die aarde mens – ek dink selfs Trump sal die komies vind.

Connie ·

Sterkte mnr. Trump, jy bly in ons gebede, word gou gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.