Teenstrydige nuus oor Russiese konvooi na Oekraïne

wit konfooi

Foto: ANP

Teenstrydige berigte oor die konvooi met humanitêre hulp wat uit Moskou na die rebellebeheerde gebiede in Oekraïne onderweg is, word steeds ontvang. Volgens die een stel berigte het die Russe ‘n reëling met die Internasionale Rooikruis om die goedere by die grens te ontvang en verder versprei, soos deur Oekraïne vereis.

Die meeste berigte lui egter dat Rusland die Rooikruis ignoreer, en op eie houtjie na die grens opruk. Oekraïne het aangedui dat so ‘n konvooi nie toegelaat sal word nie. Die Telegraph het selfs berig dat die konvooi verdwyn het.

Aanvanklik is berig dat 280 wit vragmotors met noodmiddele uit Moskou vertrek het, maar volgens die jongste berigte is dit 262. Vroeër het ‘n Oekraïense bevelvoerder glo lugfoto’s aan joernaliste gewys wat toon dat daar reeds vooraf wit vragmotors in Russiese basisse aan die grens met Oekraïne was, met soldate wat in rye daarnaas staan.

Oekraïne en die weste vrees dat Rusland die konvooi as Trojaanse perd kan gebruik om soldate oor die grens te smokkel.

Volgens die jongste berigte het die konvooi van Voronezj vertrek, en blykbaar in twee verdeel. Die een deel is blykbaar na die beleërde Loehansk onderweg, terwyl die ander suidwaarts in Rusland self in koers kies.

Vrese vir ‘n formele Russiese inval word versterk omdat Russiese soldate teen Augustus van elke jaar na ‘n jaar se opleiding op hul beste vlak is. Die inval in Georgië het ook in Augustus plaasgevind.

Kenners is verdeeld in hul menings oor of die konvooi ‘n militêre doel kan hê. Dit is bekend dat talle Russe hulle met die opstandelinge identifiseer, en die humanitêre lot van die mense erg aantrek. Insamelingsveldtogte word gereeld in Moskou geloods. Voorts is pres. Wladimir Poetin onder druk om sigbaarder betrokke te raak.

Intussen is berig dat die Russiese oliebedryf reeds weens die ekonomiese sanksies van die VSA en Europa, om finansiële hulp by die Russiese regering aangeklop het. Een van die voorstelle is glo dat die regering obligasies ter waarde van sowat $42 miljard dollar in die bedryf aanskaf.

Intussen het die VN aangekondig dat die konflik verskerp het, met die dodetal in die vier maande lange stryd wat die afgelope twee weke tot meer as 2 000 gestyg het. Die VN gee egter toe dat die dodetal veel hoër kan wees weens die onwilligheid van die rebelle om ongevallesyfers te verskaf.

Meer kan hier, hier en hier gelees word.

Bron: ANP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.