Tekort aan gesigmaskers, handreiniger in Namibië

Argieffoto (Foto: Renate Köppel/Pixabay)

Winkels en apteke in Namibië het glo nie meer voorraad van gesigmaskers of handreinigers nie, in die lig van die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) na meer lande in Afrika.

Verskeie winkels en apteke in Windhoek het aan The Namibian gesê hul voorraad is uitverkoop en ander het gesê hul algehele voorraad van gesigmaskers is deur een individu aangekoop toe die uitbreking vroeër vanjaar begin het. Hulle kon nog nie verdere voorraad bestel nie.

Groothandelaars, insluitend Shoprite en Clicks, het ook nie meer voorraad nie, het The Namibian gesê.

Die tekort aan handreinigers en gesigmaskers kom in ʼn tyd waar Namibië sy eerste gevalle van Covid-19 aangemeld het. Kalumbi Shangala, minister van gesondheid, het Saterdag die eerste twee gevalle bevestig. Twee toeriste, ʼn egpaar van Spanje wat Woensdag in Namibië aangekom het, het positief getoets. Hulle is dadelik in kwarantyn geplaas en persone word opgespoor wat met hulle in verbinding was.

Die egpaar word kragtens riglyne deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gemonitor.

Vir meeste persone veroorsaak Covid-19 slegs ligte of matige simptome soos koors en hoes. Sommige persone, veral ouer persone en mense met bestaande gesondheidsprobleme, kan moontlik longontsteking opdoen.

Die grootste hoeveelheid mense herstel van die nuwe virus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel persone binne ongeveer twee weke. Persone met erger simptome herstel gewoonlik binne drie tot ses weke.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het intussen daarop gewys dat ʼn gesigmasker jou waarskynlik nie sal beskerm teen die virus indien jy gesond is nie. Die waarskynlikheid dat jy ander mense sal besmet word verminder as mense wat hoes of nies ʼn gesigmasker dra (chirurgiese gesigmasker is voldoende; N95 nie nodig nie).

Verdere voorkomingsmaatreëls:

  • Was gereeld jou hande met seep en water of reinig jou hande met ʼn alkoholgebaseerde handreiniger vir minstens 20 sekondes. Was jou hande gereeld, veral as jy met kos werk of ná jy die toilet gebruik of gehoes of genies het. Klik hier vir ‘n resep om jou eie handreiniger te maak.
  • Bedek jou hoes of nies in die buiging van jou elmboog of met ʼn sneesdoekie. Sodra jy die sneesdoekie gebruik het, gooi dit weg en was jou hande.
  • Moenie aan jou oë, neus of mond raak as jy nie jou hande gewas het nie.
  • Moenie in nabye kontak kom met mense wat siek is nie.
  • Bly by die huis as jy siek voel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gatgogga ·

Hier in RSA is gesigmaskers en handreinigers vir geruime tyd al onbeskikbaar.
Die grootbek regering wat verkondig het dat hulle gereed is, het weer gelieg – uit vanoggend se TV program “The Fix” blyk dit dat daar nog geen strategie teen COVID is nie.
Die repatriasie uit China en die afsondering van daardie betrokke mense, in ‘n vierster oord nogal, is weer net ‘n onvanpaste en patetiese gebaar van die ANC regering om groot voor te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.