Telekommunikasie-hoë sterf

Robert Collymore, uitvoerende hoof van Safricom Plc. (Foto: ANA)

Die Oos-Afrika telekommunikasie-reus Safricom Plc het Maandag die afsterwe van sy uitvoerende hoof, Robert Collymore, aangekondig. Collymore is ná ’n twee jaar lange kankerstryd in die ouderdom van 61 oorlede.

Safricom word besit deur Vodacom asook 35% deur die Keniaanse regering wat dié maatskappy in staat stel om meer as 60% van Kenia se selfoonmark met 30 miljoen intekenare te beheer.

Collymore is vanoggend tuis oorlede.

Nicholas Nganga, voorsitter van Safricom, het in ʼn verklaring gesê Collymore het in Oktober 2017 na die Verenigde Koninkryk gereis om behandeling vir ʼn tipe bloedkanker te ontvang waarna hy verlede jaar teruggekeer het werk toe om sy pligte te hervat.

Hy het sedertdien by verskeie hospitale behandeling ondergaan waarvan sy mees onlangse behandeling by die Aga Khan-universiteitshospitaal in Nairobi plaasgevind het.

Luidens die verklaring het sy toestand egter al meer verswak.

Volgens Nganga was Collymore grootliks verantwoordelik vir die winsgewendheid van dié reusemaatskappy met ’n Amerikaanse waarde van $11 miljard.

Die Keniaanse president, Uhuru Kenyatta, het Collymore se afsterwe op Twitter betreur. “Dit is met groot hartseer dat ek vanoggend die nuus ontvang het van die dood van Safricom se uitvoerende hoof, Bob Collymore, ná jare se stryd teen kanker. As ’n land het ons ’n vooraanstaande korporatiewe leier verloor wie se bydrae tot ons nasionale welstand gemis sal word,” het Kenyatta gesê.

Collymore word oorleef deur sy vrou en vier kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.