Tendai Biti op borgtog ná aanrandingsklag

‘n Argieffoto van Tendai Biti. (Foto: Jekesai Njikizana/AFP)

Die polisie in Zimbabwe het ʼn voormalige minister van finansies en voorste opposisielid laat Vrydag in hegtenis geneem vir die beweerde aanranding van ʼn Russiese burger verlede maand.

Tendai Biti (53) is op borgtog vrygelaat na ’n aand agter tralies. Die saak teen hom is tot 18 Januarie vir verhoor uitgestel.

Die aanklag teen Biti, adjunkpresident van Zimbabwe se grootste opposisieparty, die Movement for Democratic Change (MDC), spruit uit ʼn beweerde voorval tydens ʼn hofsitting verlede maand.

Biti, ʼn prokureur, was betrokke by die verdediging van ʼn kliënt wat betrek word by die Harare-lughawepadskandaal.

Die betrokke Russiese burger, Tatiana Aleshina, het in die hof glo deurlopend vir die staatsaanklaers gefluister.

Biti het by die landdros gekla oor Aleshina se gedrag.

“Ná die verhoor het Aleshina vir Biti gekonfronteer en gesê hy mag nie haar naam noem nie,” het Fadzayi Mahere, ʼn woordvoerder vir die MDC, gesê.

Aleshina het daarna ʼn klagte teen Biti aanhangig gemaak.

Hy is in hegtenis geneem en aangehou toe hy na die polisiestasie is om sy weergawe van gebeure te gee, het Mahere gesê.

“Biti se enigste misdaad was dat hy die korrupsieskandaal oor die grondtransaksie met die Harare-lughawepad, waarby Aleshina en sakelui met bande met [pres.] Emmerson Mnangagwa betrek word, aan die groot klok gehang het.”

In die hof het aanklaer Idah Maromo aangevoer Biti het Aleshina aangerand deur haar te dreig, sy vinger na haar te wys en luidkeels beledigings na haar te skreeu in ʼn poging vrees by haar in te boesem.

Biti ontken die aanklag teen hom en sy party beskryf dit as “oordrewe” en ʼn manier om partylede en amptenare te teiken.

Sy regsverteenwoordiger, Alec Muchadehama, het aangevoer die Zimbabwiese polisie “werk nie op hul eie nie”.

“Daar is ʼn mag van buite wat hulle aansê wat om te doen en wie om in hegtenis te neem,” het hy gesê.

Biti is vantevore al aangekla van onder meer verraad.

Die Zimbabwiese polisie het in die verlede al verskeie lede van die opposisie aangekeer; iets wat die MDC aanvoer is ʼn manier om die party se stryd teen die regerende ZANU PF te verswak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Piesang replubiek wat ‘n grens deel met ‘n ander piesang replubiek. Piesang ontmoet vir piesang!

Cherokee ·

Ek hoop jy is nie besig om te skinder oor ons bure!
Ek skinder liewer oor biere,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.