Die voormalige vrouetennisster Maria Sharapova is swanger met haar eersteling. Sy het dié nuus Dinsdag op haar 35ste verjaarsdag op Instagram bekendgemaak.
Dié vyfmalige Grand Slam-enkelspeltenniskampioen is sedert Desember 2020 aan die Britse sakeman Alexander Gilkes verloof. Sy en haar verloofde woon in die Verenigde State.
Sharapova het Dinsdag ʼn foto op Instagram geplaas waar sy op die strand staan en met haar hande op haar maag poseer.
“Kosbare begin! Om verjaarsdagkoek vir twee te eet, was nog altyd my spesialiteit,” het sy by die foto geskryf.
Sharapova het al vyf Grand Slam-enkelspeltitels verower – die Franse Ope twee keer. Sy het in 2020 besluit om haar tennisraket weg te pak en uit tennis te tree.
Sy word as een van die mees herkenbare sportsterre ter wêreld beskou.