Tennisster se kêrel (42) sterf skielik

Konstantin Koltsov en Aryna Sabalenka. (Foto: Instagram/Aryna Sabalenka)

Konstantin Koltsov, die kêrel van die Grand Slam-tenniskampioen Aryna Sabalenka, is Maandag skielik in Miami, Florida, oorlede. Hy was 42 jaar oud.

Koltsov is ʼn voormalige beroepsyshokkiespeler wat die Belarussiese span in 2002 en 2010 by die Olimpiese Spele verteenwoordig het.

Hy was ook tussen 2002 en 2006 deel van die Pittsburg Penguins se Nasionale Yshokkieliga-span.

ʼn Aanvanklike verklaring deur die Belarussiese hokkiefederasie het Koltsov se skielike dood bevestig. Die Daily Mail het intussen berig Koltsov is dood weens ʼn bloedklont.

Hy was ten tyde van sy dood in Miami saam met Sabalenka, waar sy besig was om voor te berei vir haar deelname aan die Miami-Ope.

“Die Belarussiese yshokkiefederasie wil sy medelye betuig aan Konstantin se familie, vriende en almal wat saam met hom gewerk en hom geken het,” lui die verklaring.

“Ons is in rou.”

Sabalenka (25), die wêreld se naasbeste vrouetennisspeler, sou vandeesweek aan die toernooi in Miami deelneem. Die Belarussiese tennisspeler het in 2023 die Australiese Ope gewen en het vroeër vanjaar haar titel in Melbourne behou.

Sy het nog nie in die openbaar kommentaar gelewer oor Koltsov se dood nie. Koltsov het ʼn week voor sy dood by Sabalenka in Miami aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.