Tennistoernooie in China gekanselleer weens kommer oor tennisster

Peng Shuai. (Foto: STR/AFP)

Die Vrouetennisvereniging het Woensdag aangekondig dat hy sy tennistoernooie in China gaan kanselleer weens die beweerde slegte behandeling van die Chinese tennisspeler Peng Shuai en die voortdurende kommer oor haar welstand.

Verskeie tennissterre, onder wie Novak Djokovic, het intussen hul steun toegesê aan die vereniging se besluit en Shuai se bewerings van seksuele aanranding teen ʼn voormalige politikus.

Shuai het verlede maand kort nadat sy ʼn voormalige vise-premier daarvan beskuldig het dat hy haar gedwing het om seks te hê, verdwyn. Te midde van wêreldwye kommer oor haar veiligheid het sy twee weke later in amptelike foto’s van ʼn tennistoernooi in Beijing verskyn.

Ten spyte hiervan meen die voorsitter en uitvoerende hoof van die Vrouetennisvereniging, Steve Simon, dat die toernooie nie in China kan voortgaan wanneer atlete soos Shuai nie vrylik kan openbaar wat met hulle gebeur het nie.

“Die vereniging se toernooie in China, asook in Hongkong, sal onmiddellik opgeskort word,” sê hy.

“Gegewe die huidige stand van sake is ons ook baie bekommerd oor die risiko’s waardeur al ons spelers en personeel in die gesig gestaar word as ons byeenkomste volgende jaar in China sou hou.”

Die vereniging het altesaam 11 byeenkomste vir vanjaar jaar beplan, maar weens die Covid-19-pandemie moes dit oorstaan tot volgende jaar. Hoewel die skedule vir volgende jaar se toernooie nie vasgestel is nie, sal die kansellering van hierdie toernooie die vereniging honderde miljoene dollar kos.

“Hoewel ons nou weet waar Shuai is, betwyfel ek dit sterk dat sy vry of veilig is en nie onderworpe is aan sensuur en intimidasie nie,” sê Simon.

Hy het ook gevra dat daar ʼn “volledige en deursigtige” ondersoek na Shuai se bewerings gedoen word.

“Dit is nie iets waarvan ons kan wegstap nie. As ons nou ons rug hierop draai, sê ons bewerings van seksuele aanranding moet nie met die nodige erns en respek hanteer word nie.”

Shuai ‘dapper, heldhaftig’

Djokovic, wat tans in Madrid, Spanje, is vir die Davisbeker-eindstryd, het Shuai as “dapper en heldhaftig” bestempel vir haar uitspraak oor die saak.

Shuai het aanvanklik die bewerings van seksuele aanranding op Weibo, ʼn platform in China soortgelyk aan Twitter, geplaas. Dit is egter binne 30 minute nadat dit gepubliseer is, uitgevee. Chinese sensors het ook vinnig opgetree om enige melding daarvan aanlyn uit te wis.

“Ek ondersteun die Vrouetennisvereniging se standpunt ten volle omdat ons nog nie genoeg inligting oor Shuai en haar welstand het nie,” het Djokovic, tans die wêreld se beste manstennisspeler, gesê.

Hy het bygevoeg dat haar welstand van die “uiterste belang is vir die tennisgemeenskap”.

Billie Jean King, ʼn 12-malige Grand Slam-enkelspelkampioen wat die vrouetennistoernooi in 1973 begin het, het ook die vereniging se standpunt geloof.

“Die vereniging is aan die regte kant van die geskiedenis met sy besluit om ons spelers te ondersteun,” sê King.

Die Internasionale Tennisfederasie (ITF) het gesê dat hy begrip het vir die vereniging se besluit.

“Die Vrouetennisverenging het van die begin af getrou aan sy waardes gebly en ons het heeltemal begrip daarvoor,” het ITF in ʼn verklaring gesê. “Ons sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor.”

Bewyse van Shuai se welstand

Die Europese Unie, die Verenigde Nasies, die VSA en Brittanje het intussen daarop aangedring dat die Chinese regering bewyse gee van waar Shuai haar bevind en ook inligting oor haar welstand bekend maak.

Simon het ook gesê dat hy sedert die voorval nie direk in kontak kon kom met Shuai nie, ten spyte van verskeie pogings.

“Om te help om Shuai te beskerm is dit nou belangriker as ooit dat ander vroue hul ervarings van aanranding met die wêreld te deel,” sê hy.

“Ons hoop sy weet dat hierdie [situasie] nie haar skuld is nie en dat die hele wêreld trots is op haar waagmoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Nooit gedink ek sal in my leeftyd ‘n liggaam soos die sien opstaan teen die CCP nie. Daar is hoop vir hierdie deurmekaar wereld.

Althes ·

Ek is bly dat daar standpunt ingeneem word teenoor China. Arme vrou, ek hoop sy lewe nog.

Niklaas ·

Lewens is nie baie werd in China nie , weet ons al lankal. Veral waar die reputasie van politieke figure in die gedrang kom.

KB ·

China se “paaseier-wegsteek-politiek” rafel nou lekker uit. Dis tyd dat China geboikot word op alle vlakke.

Ria ·

Ek hoop alle borge onttrek uit China. Die wêreld behoort NOG NIE aan hulle nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.