Teologie-student van KZN vas oor vier moorde in Amerika

Jacquelyn Hilder, een van Muzi Madondo se vermeende slagoffers Foto: newsnet5.com

Jacquelyn Hilder, een van Muzi Madondo se vermeende slagoffers Foto: newsnet5.com

ʼn Suid-Afrikaanse man wat tereg staan op die moord van vier mense in Amerika, se verhoor sal moontlik in Maart 2015 begin.

Muziwokuthula “Muzi” Madondo (34) sal volgens die Quay County-streekshof in New Mexico op 2 Maart 2015 voor ʼn jurie verskyn, bykans vier jaar ná sy inhegtenisneming in Texas.

Dit is egter moontlik dat dié datum kan verander weens ʼn appèlaansoek oor sy beweerde skuldbekentenis op 28 Maart 2011 aan polisiebeamptes en of dit deur die jurie aangehoor mag word.

Madondo word daarvan beskuldig dat hy Bobby Gonzales (57) en sy seun, Gabriel Baca (37) in ʼn hotel in Tucumcari doodgeskiet het voordat hy na Texas gevlug het.

Regter Albert Mitchell het vroeër vanjaar bevind Madondo se regte is geskend nadat sy versoek om met ʼn prokureur te praat en sy versoek om nie met die polisie te praat nie, geïgnoreer is toe hy in hegtenis geneem is. Hy het glo twee keer gevra om met ʼn prokureur te praat.

Tim Rose, staatsaanklaer van Quay County, het egter aan Sapa gesê daar was geen gronde vir die regter se beslissing nie. “Dit was Madondo wat bly praat het,” het Rose gesê. Volgens Rose het polisiebeamptes Madondo sewe keer ingelig oor sy reg om stil te bly en regsverteenwoordiging te bekom.

Die polisie het hom as ʼn verdagte beskou omdat sy motelkamer reg langs die kamer was waar Baca en Gonzales se liggame opgespoor is.

Madondo het glo ook skuld erken op moorde wat in Ohio gepleeg is. Hy het glo erken dat hy Jacquelyn Hilder (60) op 17 Februarie 2011 in haar huis in Akron, Ohio, doodgeskiet het. Sy was ʼn uitvoerende direkteur van FirstMerit Bank.

Madondo het glo ook skuld erken op die moord van Zenzele Mdadane (25). Sy liggaam is twee dae later, ongeveer 300 km verder, in ʼn woud in Butler Township in Ohio opgespoor. Hy is doodgeskiet.

Hy het nog nie in die hof in Ohio verskyn op aanklag van die moorde op Hilder en Mdadane nie en het ook nog nie gepleit nie.

Madondo het in 2008 na Amerika geëmigreer om teologie te studeer. Hy is oorspronklik van Richmond naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

New Mexico het nie die doodstraf nie, maar indien hy skuldig bevind word aan die moorde in Ohio, kan hy tereggestel word.

Hy het glo tydens sy inhegtenisneming aangevoer hy wil tereggestel word.

Klik hier om ‘n video te sien van ‘n nuusuitsending wat in 2011 in Amerika uitgesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

EMK ·

Selfs oorsee gaan hulle met hul onmenslike dade voort – wat ‘n absolute skande. Hulle kan daar maak soos hier! Hopelik sal reg seëvier en hy nie soos in SA net ‘n tikkie oor die vingers kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.