Terreuraanval dalk rede vir EgyptAir-vliegtuig se verdwyning

JONGSTE: Die Egiptiese ministerie van burgerlugvaart het bevestig dat die wrak van die vermiste vliegtuig MS804 naby Karpathos-eiland gevind is. Familielede van die passasiers en bemanningslede aan boord is reeds in kennis gestel. Ondersoekspanne van Egipte en Griekeland soek tans na die ander oorblyfsels van die vermiste vliegtuig.

Een van die oranje items  wat in die Middellandse See gevind is en glo van die EgyptAir-vliegtuig afkomstig is. Foto: Facebook

Een van die oranje items wat in die Middellandse See gevind is en glo van die EgyptAir-vliegtuig afkomstig is. Foto: Facebook

Owerhede het Donderdag gesê dit is meer waarskynlik dat die vliegtuig van EgyptAir wat in die vroeë oggendure tydens ʼn vlug van Parys in Frankryk na Egipte van die radar verdwyn het, neergestort het weens ʼn terreuraanval as weens tegniese probleme.

ʼn Egiptiese soekvliegtuig het Donderdag twee oranje items in die Middellandse See, 230 myl suidoos van Kreta, gevind wat hulle glo van die EgyptAir-vliegtuig afkomstig is. Sherif Fathi, Egiptiese minister van burgerlugvaart, het in Kaïro gesê hy wil nie te vroeg gevolgtrekkings maak nie, maar daar is aanduidings dat die vliegtuig deur terroriste geteiken is. Hy het egter gesê die waarheid sal eers bekend wees wanneer die ondersoek afgehandel is.

Militêre soek- en reddingspanne het twee uur nadat die vliegtuig van die radar verdwyn het, ʼn noodsein van die vermiste vliegtuig ontvang. Die noodsein word glo outomaties deur ʼn battery-aangedrewe toestel gestuur in die geval van skielike verlies van hoogte of impak. Die feit dat daar egter nie ʼn noodoproep deur die vlieënier gemaak is nie, dui daarop dat die val van die vliegtuig waarskynlik skielik en vinnig gebeur het.

Egiptiese veiligheidsbeamptes het gesê hulle is tans besig om die agtergrond van al die passasiers na te gaan om te kyk of enige van hulle met ekstremiste verbind kan word.

Volgens EgyptAir is daar 56 passasiers en 10 bemanningslede aan boord van die vliegtuig, insluitend een kind en twee babas. Onder die passasiers is 30 Egiptiese burgers, 15 Franse burgers, twee Irakse burgers sowel as ʼn burger van onderskeidelik Brittanje, België, Koeweit, Saoedi-Arabië, Soedan, Tsjaad, Portugal, Algerië en Kanada.

In Maart is ʼn vliegtuig van EgyptAir gekaap en na Ciprus herlei. Die man wat skuld erken het vir dié kaping en deur owerhede as “geestelik onstabiel” beskryf word, is tans in aanhouding in Ciprus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charmaine ·

Dis vreeslik! Ons was geskok oor die vliegtuig wat net “verdwyn” het. Daars te veel vliegtuie wat val ens. Ons het ‘n doods-vrees gekry agv. dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.