Terreurondersoek ná moord by Franse polisiestasie

(Foto: Bertrand Guay/AFP)

ʼn Terreurondersoek is begin nadat ’n vrou by ’n polisiestasie in Frankryk met ’n mes doodgesteek is.

Die aanvaller, ’n vermeende Islamitiese ekstremis van Tunisië, is na die aanval deur lede van die veiligheidsmagte doodgeskiet.

President Emmanuel Macron het in reaksie op die aanval gesê dat Frankryk nooit sal toegee aan “Islamitiese terreur” nie.

Die voorval het in Rambouillet, ’n rustige dorp ongeveer 60 kilometer van Parys, plaasgevind. ’n Bron na aan die ondersoek het aan AFP gesê die aanvaller het “Allahu Akbar” geskree tydens die aanval.

Jean-Francois Ricard, teenterrorisme-vervolger in Frankryk, het gesê die aanvaller se uitlatings dui op ’n terreurmotief, maar wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.

Die aanval het in die ingangsarea van die stasie plaasgevind. Die 49-jarige vrou, ’n administratiewe assistent by die stasie en ’n ma van twee, is met ’n mes in die keel gesteek en is kort daarna dood.

Die 36-jarige aanvaller is kort daarna doodgeskiet. Hy het in 2009 onwettig in Frankryk aangekom, maar het sedertdien verblyfdokumente gekry, het ’n polisiebron gesê. Hy het pas na Rambouillet verhuis.

Macron het sy medelye met die oorledene se familie, kollegas en die veiligheidsmagte betuig.

Veiligheid by polisiestasies landwyd sal opgeskerp word. Talle aanvalle die afgelope jaar het kommer oor radikale Islam binne Frankryk sowel as immigrasie laat ontstaan.

In Oktober verlede jaar is Samuel Paty, ’n onderwyser, deur ʼn 18-jarige Tsjetsjniër, wat in Moskou gebore is, onthoof. Sy moordenaar is kort ná die moord deur die polisie doodgeskiet. Kort daarna het ’n Tunisiër drie mense by ’n kerk in Nice vermoor.

Macron se regering het wetgewing ingestel om radikale Islamitiese bedrywighede in Frankryk te takel, ’n wetsontwerp wat woede in sommige Moslemlande tot gevolg gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aikie ·

Hier gaan nog lelike dinge wêreldwyd uitbroei met dié Islamitiese ekstremiste. Intussen maak hulle weer dinge moeilik vir die Islamiete wat net gewoonweg onopgemerk wil saam lewe in die pkek waar hulle bly. Elke aksie get ‘n reaksie. Kyk maar net hoe was alle Islamiete bejeen na 911.

Bernard ·

Júlle het hulle toegelaat in julle land, ongeag die gevaartekens, so ongelukkig sal julle nou moet deel met die probleem ook.
Ongelukkig flood hierdie ekstremiste die wêreld oraloor en al die lande sit maar net terug en kry die arme bloedjies jammer.

Pieter ·

Deel van die plan om Europa die nuwe tuiste van Afrika en die Midde Ooste te maak. Lekker geslaap al die jare en luuks gelewe sonder nageslag.

Sarel ·

In SA verklaar ‘n Politikus oorlog tedn die Polisie en hulle gesinne….niks gebeur nie

Charl ·

Lekker suutjies het die ekstremistiese wolf by die agterdeur ingesluip en nou skree Frankryk ”wolf” !…na die hoeveelste aanval nou al op hul landsburgers ?? Suid Afrika, jy slaap self lekker, dis bietjie laat in die dag vir ons om te wil wolf skree, of hoe ?

Karina ·

So gaan die wêreld ten gronde, moorde, korrupsie, siektes, droogtes, en waar daar nie droogtes is nie, verspoelings, vuurspuwende berge, geloof verban in skole, oproere. Maak my hart seer. Einde van die wêreld in sig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.