Terugblik: Belangrikste politieke gebeure van die jaar 2016

angela merkel 3

Angela Merkel, kanselier van Duitsland. Argieffoto.

Januarie

Nuwejaarsmoles in Duitsland
By die Nuwejaarsvieringe in verskeie Duitse stede, by name in Keulen, is Duitse vroue op ʼn massiewe skaal deur ʼn Midde-Oosterse groep seksueel geteister, bedreig, beledig en selfs verkrag. Die toedrag van sake word deur die media aanvanklik doelbewus verswyg, maar die besonderhede kom geleidelik aan die lig. Dit is die keerpunt van die entoesiasme oor die instromende vlugtelinge in 2015 en mense se houding verander na ʼn toenemende afkeur vir veral Moslem-immigrante.

Islamitiese terreur
In Januarie was daar ʼn selfmoord-bomaanval in Damaskus, Sirië, met 70 slagoffers, en die terreurgroep Boko Haram het ʼn dorp in Noord-Nigerië aangeval met tientalle slagoffers. Islam-terreur bly ook in 2016 die grootste bedreiging vir internasionale veiligheid met tallose aanslae feitlik elke maand en met groot lewensverliese in verskeie lande, soos Turkye, Pakistan, Nigerië, Egipte, Irak, Sirië, VSA, Duitsland, België en Frankryk.

trump en clinton

Donald Trump en Hillary Clinton

Februarie

Die lang pad na die Withuis
Die wedloop om die Withuis begin met die voorverkiesing in Iowa, wat Donald Trump vir die Republikeine en Hillary Clinton vir die Demokrate wen. Die twee verslaan talle teenstanders in die voorverkiesings die volgende paar maande en word in Julie amptelik onderskeidelik benoem as die kandidate vir die Republikeinse en Demokratiese Party. Terwyl die verkiesing van Hillary Clinton as kandidaat van die Demokrate as ʼn uitgemaakte saak beskou is (en haar partygenoot Bernie Sanders verbasend lank teen haar uithou), is die verkiesing van Donald Trump as Republikeinse kandidaat ʼn sensasie. Die twee kandidate verteenwoordig twee verskillende wêrelde: die gevestigde-orde-kandidaat met die jarelange politieke ondervinding en polities-korrekte uitsprake (Clinton), maar ook allerhande skandale teen die “anti-establishment” kandidaat sonder politieke ondervinding en ongetoets wat nie skroom om te sê wat hy dink nie en wat dikwels op tone trap.

Amerikaanse president Barack Obama en president van Kuba, Raul Castro

Amerikaanse president Barack Obama en president van Kuba, Raul Castro

Maart

Balkanroete gesluit
Om die aanhoudende vlugtelinggolf uit die Midde-Ooste via Turkye, Griekeland en deur die Balkanstate na veral Duitsland te stuit, sluit die betrokke lande langs die roete hulle grense. Die EU onderhandel ʼn ooreenkoms met Turkye wat dié land effektiewelik die hekwagter maak om so veel as moontlik vlugtelinge daar vas te hou in ruil vir finansiële vergoeding en politieke toegewings. Die druk op Wes-Europa neem af, maar die krisis is nie opgelos nie.

Ontspanning tussen ou vyande
Vir die eerste keer sedert 1928, besoek Barack Obama, die Amerikaanse president, die kommunistiese eilandstaat Kuba, geswore vyand van die VSA. Dit volg op ʼn ontspanningsproses tussen die twee lande en die gedeeltelike opheffings van sanksies teen Kuba deur die VSA. Kuba beleef ʼn massiewe instroming van toeriste en blootstelling aan die wêreldwye kultuur, maar polities en ekonomies verander min. Ook die verhoudinge tussen die VSA en ʼn ander ou vyand, die eweneens kommunistiese Vietnam, ontspan en die wapensanksies teen die land word opgehef.

panama-papersApril

Panama dokumente ontbloot wêreldleiers
In die grootste lekkasie nog van vertroulike inligting word 11,5 miljoen vertroulike dokumente van internasionale regsfirmas wat bedrog, belastingontduiking en ander misdrywe van die wêreld se elite wys, openbaar gemaak. Dit bring talle internasionale leiers in die verleentheid.

Mei

Val van ʼn omstrede leier
Die Brasiliaanse senaat stem om president Dilma Rousseff van haar pos te onthef en in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Rousseff word beskuldig van korrupsie en die onregmatige aanwending van staatsfondse. Michel Temer, die vise-president, word president. Die proses van ampsontheffing word in Augustus gefinaliseer.

brexit

Foto: Pixabay.com

Junie

Britte stem vir “Brexit”
In die referendum oor Groot Brittanje se voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie stem die meerderheid van kiesers teen alle verwagting, en grootliks teen die gevestigde orde se sin, vir die “Brexit” (die wegbreek van Groot Brittanje uit die EU) met 52% teen 48%. Eerste Minister David Cameron, wat die referendum uitgeroep het en steun gewerf het vir die verblyf binne die EU, bedank kort na die uitslag. Theresa May, minister van binnelandse sake, word die nuwe Eerste Minister en Boris Johnson, die gesig van die “Brexit”-veldtog, word die minister van buitelandse sake. Die meeste wêreldleiers en meningsvormers reageer met skok en ongeloof op die uitslag.

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Julie

Staatsgreeppoging in Turkye
Dele van die weermag om die bewind van president Recep Tayyip Erdogan omver te werp. Die staatsgreep misluk binne ure en Erdogan slaan met volle mag terug. Hy laat duisende mense in hegtenis neem en suiwer die staatsinstellings van sy teenstaanders. Dit betref nie net die weermag nie, maar ook die regswese, media, kultuurwese en die politiek. Turkye word al hoe meer ʼn diktatorskap.

China word gestuit
ʼn Hof in Den Haag beslis dat China onwettig optree in die Suid-Chinese See en rotse en riwwe wat aan ander lande soos die Filippyne of Vietnam behoort, te beset en tot militêre vestings uit te bou om ʼn houvas op ʼn seegebied te kry wat van strategiese belang is en ook grondstowwe bevat. Die konflik sleep al vir jare voort en het die potensiaal tot ʼn streeksoorlog. Daar is nog geen aanduiding dat China gehoor gee aan die uitspraak nie.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane (Foto: Demokratiese Alliansie)

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane (Foto: Demokratiese Alliansie)

Augustus

Munisipale verkiesing versterk opposisie
In die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing slaag die opposisieparty, die Demokratiese Alliansie, daarin om saam met kleiner koalisievennote soos die VF+, UDM, IVP, ACDP en ander beheer oor belangrike metropole soos Johannesburg, Pretoria en Port Elizabeth asook talle kleiner munisipaliteite oor te neem. Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is nie deel van die koalisies nie, maar steun die anti-ANC-koalisies. Die ANC bly egter verreweg die grootste party. Die druk op president Zuma om te bedank neem toe, saam met nuwe onthullings oor sy korrupsie, maar hy bly vasstaan en in sy eie party is sy teenstanders in die minderheid.

Olimpiese Spele
Die 31ste Olimpiese Spele vind in Rio de Janeiro, Brasilië plaas. Die spele word egter oorskadu deur swak organisasie, gewelddadige betogings en die ampsontheffing van president Rousseff.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons

Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons

September

Geen verandering in Rusland nie
Die party “Verenigde Rusland”, wat president Wladimir Poetin steun en wat deur Poetin se vertroueling Dimitri Medwedew gelei word, wen die parlementsverkiesing in Rusland met 54% van die stemme, wat egter minder is as die vorige keer.

Oktober

Colombiane verwerp vredesverdrag met rebelle
Teen alle verwagtinge stem die meerderheid in ʼn referendum in Colombia teen die vredesverdrag met die kommunistiese FARC-rebelle met 50,2% teenoor 49,8%. President Juan Manuel Santos beraadslaag met die teenstanders van die vredesverdrag om sekere punte van die verdrag te wysig. Die vredesproses word voortgesit en Santos ontvang ook vanjaar se Nobelprys vir Vrede.

Koning van Thailand oorlede
Die langs regerende heerser ter wêreld, die koning van Thailand, Bhumibol Adulyadej, sterf in die ouderdom van 88 jaar. Dit skok die land en sy mense, wat die koning amper soos ʼn god vereer het. ʼn Lang rouperiode word afgekondig. In Desember word Bhumibol se omstrede seun, Maha Vajiralongkorn, tot koning gekroon.

Trump is Time se mens van die jaar (Foto: Today)

Trump is Time se mens van die jaar (Foto: Today)

November

Donald Trump wen presidentsverkiesing in VSA
Na ʼn verwoede verkiesingstryd wen Donald Trump as kandidaat van die Republikeinse Party die presidentsverkiesing teen Hillary Clinton van die Demokratiese Party. Trump wen 306 afgevaardigdes teenoor 232 vir Clinton en die Republikeinse Party behou ook die beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers en doen goed in meeste verkiesings op deelstaatvlak. Die uitslag verstom feitlik alle meningsvormers en die gevestigde orde is geskud.

Slag om Mosoel
Nadat die Islamitiese terreurgroep Islamitiese Staat (IS) vir meer as twee jaar die tweede grootste stad van Irak, Mosoel en groot dele van Noord- en Sentraal-Irak beheer het, begin die heroweringsoffensief van Irakese regeringstroepe, ondersteun deur Koerdiese Pesj Merga vegters en Sjiïtiese milisies. Ook in Sirië verloor IS grondgebied.

Desember

Val van Aleppo
In die Siriese burgeroorlog wen die regering van president Basjar al Assad ʼn belangrike oorwinning met die verowering van die tweede grootste stad Aleppo, wat vir lank ʼn vesting van die rebelle was. Rusland het met lugaanvalle aan die kant van Al Assad ingegryp en sodoende die val van Aleppo moontlik gemaak. Talle gruweldade vind egter plaas tydens die verowering. ʼn Drie dae lange skietstaking wat die rebelle en burgerlikes kans gee om te ontruim, word deur die VN onderhandel.

Matteo Renzi verloor referendum
In Italië verloor Eerste Minister Matteo Renzi ʼn referendum oor grondwetlike hervormings wat die sentrale gesag sou versterk en die besluitnemingsprosesse sou vergmaklik, met 60% teen 40%. Die uitslag word as ʼn gebrek aan vertroue in Renzi en sy regering vertolk en hy bedank. Die uitslag is ook ʼn terugslag vir die EU-leiers soos kansellier Angela Merkel van Duitsland wat graag ʼn Europese superstaat wil sien en wie se bondgenoot Renzi is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

… Hillary, ‘n gevestigde-orde-kandidaat… ek weet darem nie. Dit klink of liberalisme (sg demokrasie) die o so korrekte antwoord op alle probleme op aarde sou wees teenoor chaos ( dis nou Trump). Menseregte-vegters breinspoel almal heerlik. Die demokrate het net vir 8 jaar die VSA bestuur en Hillary was vir net 4 jaar minister van buitelandse sake en ook maar swak hoor. Voor dit was die Republikeine aan bewind. ‘n Mens kan baie toorkunsies aanleer deur die jare, maar nie almal val vir abra kadabra nie… En ek dog mnr Biehl bly in Orania.

Sebastiaan ·

Ek is hoegenaamd geen Hillary Clinton aanhanger nie, my steun was by Trump. “Gevestigde orde” is ‘n poging tot ‘n Afrikaanse vertaling van “establishment”, wie se kandidaat mev. Clinton by uitstek was en wat teen haar getel het. Gevestigde orde is dus bedoel met ‘n effens negatiewe klank. Dalk weet iemand ‘n beter vertaling vir “establishment”.

ada ·

Ek kan nie wag vir Trump nie. Israel veral gaan bly wees noudat Kerry sy rug op Israel gedraai het met Obama se ondersteuning naruurlik. Obama probeer nou ook in sy laaste dae in office die verhouding tussen Amerika en Rusland skaad. Erge suur druiwe omdat Clinton dit nie gemaak het nie en omdat Obama administrasie se korruptheid nou sterk tot die voorgrond tree. Erdogan het juis gese dit is deur Clinton dat Al Kaida en Isil gebore is en onstabititeit in daardie lande het Clinton die groot kans gegee om geld te maak deur wapens aan die verkeerde mense te voorsien. Putin was egter te slim vir die korrupte USA en het geweet wat om in Aleppo te doen. Die Rebelle se sondes kom nou uit wat Amerika probeer wegsteek en wie Amerika ondersteun het.

Elmarie Fischer ·

Goeie opsomming van ´n rowwe jaar. Mag 2017 net oplossings bring en vrede.

elize naude ·

die gebeure in keulen was van begin af transperent… seksuele teistering is erg, maar verskil dog nog van verkragting… die media moet alewig oordryf… dit help die slagoffers nie… inteendeel…

Sebastiaan ·

Daar was enkele gevalle van verkragting ook, meeste gevalle was seksuele teistering en belediging, bedreiging asook roof en diefstal. Daar is in totaal 1054 klagtes deur slagoffers by die polisie ingedien, amper die helfte was oor seksuele teistering en daar was ook 3 verkragtingsklagtes.

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekende samevatting van 2016!

Met Donald Trump los hande die grootste nuusmaker en ‘n sprankie hoop vir ‘n menigte wêreldwyd wat al moed opgegee het met ‘n pynlik polities korrekte samelewing wat wemel van dubbele standaarde en skynheiligheid.

Die tekens is reeds daar dat 2017 selfs meer onstuimig gaan wees. Uitgaande president Obama doen sy bes om ‘n reeds plofbare situasie a.g.v. ontevrede, ondemokratiese Clinton-ondersteuners, te vererger. Die wyse waarop hy Rusland die ‘skuld’ gee vir die Trump-oorwinning herinner aan tipiese laerskool gedrag en behoort selfs sy grootste ondersteuners teleur te stel.

Kaufman ·

Uitstekende artikel. Gisteraand se gebeure met Obama wat so veglustig teenoor die Russe is kan ook nou bygevoeg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.