Tesla stel elektriese vragmotor bekend

Tesla se elektriese vragmotor (Foto: AP via Tesla)

Die motorvervaardiger Tesla het Donderdagaand sy elektriese vragmotor én ʼn nuwe weergawe van sy gewilde Roadster-sportsvoertuig in Los Angeles in die VSA bekend gestel.

Elon Musk, uitvoerende vervaardiger van Tesla, het tydens die bekendstelling gesê die vragmotor kan ʼn spoed van 0-100 km/h in net vyf sekondes haal wanneer daar nie ʼn vrag gelaai is nie.

Volgens Musk kan die vragmotor selfs met ʼn vrag dié spoed in 20 sekondes haal – vinniger as enige ander dieselvragmotor wat tans op die pad is.

Dié elektriese vragmotor kan verder ook sowat 800 km op een batterylewe ry wat volgens Musk twee keer die afstand is wat ʼn vragmotorbestuurder oor die algemeen tydens een rit aflê.

Musk het ook gesê die vragmotor is gebou om verder as 1,5 miljoen km (een miljoen myl) te reis met die oorspronklike parte. Die instandhouding sal volgens hom ook só laag wees dat kopers binne twee jaar gelyk sal breek en al die pad bank toe gaan lag.

Tesla se elektriese vragmotor (Foto: AP via Tesla)

Talle sosialemediagebruikers is egter nog nie heeltemal oortuig om só ʼn vragmotor aan te koop nie. Kwelpunte van die elektriese vragmotor is onder meer dat dit baie langer sou neem om die battery te herlaai as om diesel in ʼn gewone voertuig te gooi en dat ʼn dieselvragmotor verder as 800 km sou kon ry op een rit – selfs al neem dit ʼn paar minute om brandstof in te gooi.

Musk het egter gesê dit is “ekonomiese selfmoord” deur aan te hou om diesel te gebruik wanneer elektriese voertuie ʼn goedkoper en meer omgewingsvriendelike opsie bied.

Die vragmotor is nie die enigste Tesla-voertuig wat aandag getrek het nie. Soos genoem, is die nuwe weergawe van Tesla se Roadster is ook tydens dié geleentheid bekend gestel. Die nuwe weergawe sal onder meer vier sitplekke hê en van 0-100 km/h kan ry in 1,9 sekondes. Die nuwe Roadster gaan jou $200,000 (R2,7 miljoen) uit die saak jaag waarvan $50,000 (R700 000)  ʼn deposito is om die voertuig te reserveer.

Die kostes van die vragmotor is nog in dié stadium onduidelik. Meer inligting sal weldra bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

3de Paragaaf – vinniger as enige (ander?) dieselvragmotor. Die sin lees lekkerder sonder die woord ‘ander’.
Die beskrywing laat dit beter klink as kon dink. Waarom is daar nie sulke gesinsmotors maar klaar ‘n lorrie!

FM ·

Dis miskien te vroeg om te voorspel, maar hoe meer elektriese motormodelle op die mark kom hoe goedkoper gaan brandstof word. Miskien nog vêr in die toekoms EN elektries aangedrewe voertuie is te duur. Net die heel rykstes sal dit kan bekostig.

ChrisE ·

Ek is nie tegnies op hoogte van sake nie. Ek dink net iemand is besig om ons, die publiek te belieg en bedrieg. Ek dink die elektriese tegnologie word kunsmatig hoog gehou. Is daar nie ‘n moontlikheid dat die elektriese motor self herlaai kan word nie. Ek dink hier aan die eenvoudige beginsel van ‘n dinamo op ‘n fiets. Dit ontwikkel “elektrisiteit” wat die batterye in die elektriese motor voortdurend kan “herlaai” of sal verhoed om pap te word. Het ek ‘n saak of nie.

Knapie ·

Chris, ja en nee. Dit gaan oor die beginsel van behoud van energie. Jy stoor energie in n battery. Die voertuig onttrek energie vanuit die die battery om te kan beweeg. ‘n Dinamo benodig ook energie om elektrisiteit (energie) op te wek. As jy die dinamo op jou fiets in skop, trap jy skielik baie harder. Natuurwette bepaal dat n dinamo meer energie benodig as wat dit kan opwek as gevolg van o.a. wrywing. Daar is tog gevalle dat daar oortollige energie in die stelsel is wat jy wel weer in die battery kan stoor soos bv as jy rem. Dit staan bekend as ” regrnerative breaking” en word alreeds geïmplementeer in die soort voertuie.

Chris Ws ·

Daar was ‘n dokumenter op Dicovery kanaal so maand gelede oor Elon Musk(hys ‘n gebore Suid Afrikaner) en sy eerste Tesla elektriese motor.Dit was in 2012.Op sy webwerf is daar nou al ‘n paar modelle wat hy vervaardig.In die dokumenter vertel hulle hoe die voertuig krag opwek sodra jy jou voet op die versneller pedaal lig.Die motor “rem” self in die proses terwyl die battery gelaai word.Maar om aanhoudend die battery te laai terwyl die voertuig ry is nog nie moontlik nie.Loer gerus op http://www.tesla.com

Paul ·

Ek let op jy sê dis “nog nie” moontlik nie, Chris Ws…

Verduidelik asseblief hoe dit ooit moontlik sal kan wees en nie die eerste of tweede wette van termodinamika sal oortree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.