Texas-gyseldrama: Verdagte was Britse burger; twee tieners vas

Die sinagoge in Colleyville waar vier mense gyselaar gehou is (Foto: Brandon Bell/Getty Images/AFP)

Die man wat vier mense by ʼn sinagoge in Texas, VSA, as gyselaars aangehou het voordat hy doodgeskiet is, is deur Amerikaanse owerhede as ʼn Britse burger geïdentifiseer.

Die Britse polisie het later twee tieners in hegtenis geneem in verband met die voorval wat deur pres. Joe Biden as ʼn “terreurdaad” bestempel is.

Die 44-jarige Malik Faisal Akram is ná ʼn tien uur lange gyselaarsdrama in die dorpie Colleyville deur die polisie doodgeskiet.

Brittanje se teen-terreurpolisie het ure later twee tieners in Manchester in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Die vier mense wat tydens die voorval as gyselaars aangehou is, onder wie ʼn rabbi, is Saterdagaand ongedeerd vrygelaat.

Biden wou nie bespiegel oor die motief nie, maar het blykbaar berigte bevestig dat Akram die vrylating van die veroordeelde terroris Aafia Siddiqui, ʼn Pakistanse neurowetenskaplike bekend as “Lady Al-Qaeda”, geëis het.

“Dit was ʼn terreurdaad [wat gepleeg is deur ʼn aanvaller wat blykbaar] aangedring het op die vrylating van iemand wat al langer as tien jaar in die tronk is,” het Biden aan verslaggewers gesê.

Liz Truss, Brittanje se minister van buitelandse sake, het Sondag ook die aanhou van die gyselaars veroordeel as ʼn “daad van terrorisme en anti-Semitisme”.

Siddiqui, die eerste vrou wat deur die VSA van bande met Al-Kaïda verdink is, is in 2008 in Afghanistan in hegtenis geneem. Sy is twee jaar later deur ʼn hof in New York tot 86 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op Amerikaanse beamptes in Afghanistan.

Siddiqui word tans in ʼn gevangenis in Fort Worth, Texas, aangehou – sowat 32 km van die sinagoge wat Akram aangeval het. Siddiqui se prokureur het gesê sy “het absoluut geen betrokkenheid” by die gyselaarsituasie nie en het dit veroordeel. Dit is nie tans duidelik of sy enige bande met Akram het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Waars die “healing of America” en “getting rid of racism” wat Biden en sy hoogheilige Demokrate dan belowe het? Steeds gaan aanvalle en ander nonsens in Amerika net aan. Voor die presidentsverkiesing in 2020 het Biden en sy Demokrate dan aanmekaar gesê “stem net vir ons en alles sal regkom”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.