Thailand-grotdrama: Só word seuns uit grot gered

Hierdie foto wat deur Elon Musk op Twitter gedeel is, toon hoe die reddingswerk voortgaan in die oorstroomde grot in die noorde van Thailand. Musk het dié foto vroeg Dinsdagoggend (10 Julie 2018) getwiet. Foto: Twitter

Owerhede in Chiang Rai in Thailand het Dinsdag gesê hulle het die derde reddingsoperasie begin om die laaste vier seuns en hul sokkerafrigter uit die Tham Luang Nang Non-grot te bring.

Agt seuns is reeds deur middel van ingewikkelde reddingsoperasies uit die grot gebring. Die reddingsoperasie behels dat die seuns een vir een deur reddingsduikers uit die oorstroomde grot gebring word.

Elke seun word met ʼn tou aan ʼn reddingsduiker vasgemaak wat voor hom beweeg, terwyl ʼn tweede reddingsduiker agter die seun swem. Hulle moet dan saam meer as 2 km ver na die uitgang van die grot beweeg.

Die seun en die duikers het suurstofmaskers op, maar die duiker wat voor swem dra die seun se suurstoftenk vir hom. Die duikers en seun kan op sekere dele van die pad uit te voet beweeg, terwyl hulle ander dele moet duik. Op party plekke is die gangetjie waardeur hulle moet beweeg só nou, dat die duikers die suurstofsilinders van hul rûe moet afhaal en deur die nou openinge rol.

Dit neem ongeveer drie ure vir die groep om te beweeg van die plek waar die seuns in die grot vasgekeer is tot buite die grot.

The Telegraph berig dat dit Maandag deur die nag gereën het en dat dit die reeds gevaarlike reddingsoperasie vandag net nog ingewikkelder kan maak. Owerhede is egter vasbeslote om die laaste vyf veilig na buite te bring.

Intussen het ʼn senior gesondheidsbeampte gesê die agt seuns wat reeds gered is, het nou begin om vaste kosse te eet. Jedsada Chokdumrongsuk, sekretaris by die plaaslike departement van gesondheid, het gesê omdat die seuns jonk en fiks is, is hul immuunstelsels sterk.

Hy meen hulle gemoed is ook goed en oor die algemeen “is hulle gesond en glimlag hulle”. Sielkundiges is wel aangestel om berading aan die seuns te verskaf.

Volgens Jesada kan dit minstens sewe dae duur voordat die seuns uit die hospitaal ontslaan word. Familielede kon al van die seuns reeds deur ʼn glas-isolasieversperring sien en volgens Jesada sal dokters die seuns moontlik vandag toelaat om uit hul beddens op te staan.

Jesada het verduidelik dokters is baie versigtig rakende die seuns se behandeling, aangesien dit nog onbekend is watter tipe infeksies moontlik kan intree ná die seuns so lank in die diep grot vasgekeer was.

Tans staan daar vier ambulanse en ʼn konvooi van ander voertuie voor die ingang na die grot terwyl daar gewag word vir duikers om die seuns en hul afrigter uit die grot te bring.

Lees alle vorige berigte oor die Thailand-grotredding op Maroela Media.

Grafika: Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Verlig ·

Ek hoop hierdie reddingswerkers kry die erkenning wat hulle verdien. Helde in my oë

JSO ·

Ek verstaan nie? As die pad op plekke so nou is dat daar met moeite deurgekruip/gewurm moet word, hoe op aarde het die seuns dan gekom waar hulle vasgekeer is? Ek verstaan dat die oorstroming later gebeur het, maar HOE het hulle almal deur die nou gangetjies gekom?

Hanno ·

Hou in gedagte daai seuns is nie so vet en onfiks soos Suid-Afrikaanse kinders nie.

WitBlits ·

Die seuns het te voet in die grotte ingeloop voordat die reëns geval het en met die reëns het water die grotte oorspoel.

Paul ·

Waarom gryp hierdie reddingspoging my aan? Dit is ongelooflik om te sien en om te ervaar hoe mense en die owerheid van daardie land veil vir sy mense het, als sal doen om hulle by te staan, al is dit net ‘n klein groepie jong kinders in gevaar.

In Suid-Afrika voel ons versaak, ons veiligheid, ekonomies en ons is nie aldag seker of ons welkom in ons eie land is nie.

Alida ·

Vergeet tog hoe hulle daar gekom het en bid dat ALMAL gered en na veiligheid gebring sal word.

Helene Heyns ·

Goeie genade…..hulle moet meer as twee kilometer beweeg om by die uitgang te kom. My hart het nou amper gaan staan. Ek bid dat hul almal veilig sal uit kom. Ek hoop dat hierdie reddingswerkers op een of ander manier erkenning sal kry. Hul offer omtrent hul lewens op vir hul naaste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.