Thailand-grotredding: Seuns praat met die media

Lede van die sokkerspan wat uit ‘n grot in Thailand gered is (Foto: AP Photo/Vincent Thian)

Die 12 seuns en hul sokkerafrigter wat uit ʼn grot in Thailand gered is, is uit die hospitaal ontslaan en het Woensdag aan ʼn perskonferensie deelgeneem. Hulle het vrae van verslaggewers oor die wêreld heen beantwoord.

Die groep het onder luide applous van verslaggewers en skoolmaats die gebou betree en vinnig hul balhanteringstalent gewys op ʼn mini-sokkerveld wat in die saal opgerig is.

Hulle het hul vriende omhels voor hulle saam met dokters en lede van die Thailand-vloot se spesialemagspanne wat hulle uit die grot gehelp het, voor die groep verslaggewers gaan sit het.

Dokters het gesê die 13 persone is gesond – fisies en geestelik. Die seuns het gemiddeld reeds elkeen ongeveer 3 kg opgetel sedert hul redding. Hulle het elkeen gemiddeld 4 kg verloor tydens die meer as twee weke wat hulle in die grot vasgekeer was.

Die perskonferensie was die eerste geleentheid vir lede van die span om direk met die media te praat, alhoewel beeldmateriaal vroeër van hulle vrygestel is. Beamptes het die vrae vooraf hersien om seker te maak dat daar nie enige vrae gevra sou word wat dalk ʼn skadelike sielkundige impak kan hê nie.

Lede van die sokkerspan sit en eet in die hospitaal (15 Julie 2018) (Foto: Thailand se ministerie van gesondheid en die Chiang Rai Prachanukroh-hospitaal, via AP, File)

Hulle is vrae gevra oor die omstandighede hoe hulle in die grot beland het en daar vasgekeer is en die oomblik toe twee Britse duikers hulle gevind het.

Die Wild Boars-spanmaats het op 23 Junie die Tham Luang-grot betree en dit sou ʼn vinnige, ontspanne uitstappie wees ná hul sokkeroefening. Dit het egter begin reën terwyl hulle ondergronds was en water het die spelonke gevul en hul uitgang is afgesny.

Die Britse duikers het die groep, nagenoeg 10 dae later, op ʼn stukkie droë grond diep in die grot opgespoor. Hulle was uitgehonger, maar oor die algemeen gesond. ʼn Internasionale span reddingsduikers het oor ʼn tydperk van drie dae die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige afrigter met ʼn ingewikkelde katrolstelsel en duiktoerusting deur die nou, oorstroomde gange na buite gelei. Hulle is almal op 10 Julie 2018 bevry.

Van die seuns is vir geringe infeksies behandel, maar al 13 sterk goed aan.

Die seuns se gesinne het voorbereidings getref vir hul terugkeer huis toe Woensdagaand. Banphot Konkum, ʼn oom wat die 13-jarige Duangpetch Promthep grootmaak, het gesê hy het ʼn splinternuwe slaapkamer en geskenke wat vir hom wag. “Ons sal enigiets doen wat hy wil hê. As hy iets wil hê, sal ons dit vir hom koop. Ons het belowe dat, as hy veilig uit die grot sal kom, sal ons enigiets vir hom doen,” het Banphot verduidelik.

Lees alle vorige berigte oor die Thailand-grotredding op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Dit is n baie groot wonderwerk dat al hierdie kinders vandag lewe

Michelle van Rensburg ·

Aan God al die eer. En sy genade was vir hullle groot. Joh 3:16

LB S ·

Die Oom is baie vrygewig en seker so diep dankbaar. Oppas nou vir bederf, Oom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.