Thailand rou na moordtog by dagsorgsentrum

(Foto: MANAN VATSYAYANA/AFP)

Vlae op regeringsgeboue in Thailand het Vrydag halfstok gehang na die dagsorgsentrum-tragedie wat die lewens van minstens 37 mense, onder wie tientalle kinders, geëis het.

Die slagoffers se gesinne het buite die sorgsentrum in die Nong Bua Lam Phu-provinsie bymekaargekom waar ’n oudpolisieman op ’n moordtog gegaan het.

Minstens 23 kinders is in die aanval dood. Die 34-jarige Panya Khamrab het ook later sy vrou en kind by hul huis vermoor voor hy sy eie lewe geneem het.

Die Thaise koning Maha Vajiralongkorn en premier Prayut Chan-o-cha sal oorlewendes van die aanval later vandag besoek.

Nanthicha Punchum, waarnemende hoof van die dagsorgsentrum, het gesê Khamrab, wat uit die polisie ontslaan is, het met ’n 9 mm-pistool en ’n mes op die dagsorgsentrum toegeslaan.

“Daar was van die personeel wat middagete buite die dagsorgsentrum geëet het en die aanvaller het sy motor geparkeer en vier van hulle doodgeskiet,” het sy aan AFP gesê.

“Die skieter het die deur afgeskop en toe ingekom en die kinders se koppe met ’n mes begin kap.”

Plaaslike media berig ’n onderwyseres wat agt maande swanger was, is onder die slagoffers.

Khamrab het na die bloedbad by die dagsorgsentrum na sy huis gery waar hy met sy moordtog voortgegaan het voor hy homself om die lewe gebring het.

Damrongsak Kittiprapat, nasionale polisiehoof, het aan verslaggewers gesê Khamrab is in Januarie geskors en in Junie vir dwelmgebruik afgedank.

Dié massamoord volg minder as ’n maand nadat ’n dienende weermagoffisier twee kollegas by ’n militêre opleidingsbasis in die hoofstad Bangkok doodgeskiet het.

’n Thaise soldaat het 29 mense in 2020 doodgeskiet en vele gewond voordat hy self deur kommando’s doodgeskiet is.

Talle landsburgers besit vuurwapens in Thailand. Massaskietvoorvalle gebeur egter selde in dié land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Antie Sarie ·

Dit gaan al hoe meer gebeur. Mense is besig om te verander.

Sandra ·

Die manier hoe hy die kinders vermoor het is absoluut grusaam.

Jillian ·

Met trane in my oë vra ek, wat word van ons wêreld? Ek wens God wil ons kom haal en al hierdie dinge op ‘n end sit????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.