Thailand skrap vereiste Covid-toets voor vlugte

Argieffoto van Phuket ter illustrasie. (Foto: Lillian SUWANRUMPHA / AFP)

Mense wat na Thailand reis, sal binnekort nie meer ʼn verpligte Covid-19-toets hoef te doen voordat hulle na dié land vlieg nie. Owerhede hoop dat dié stap die land se toerismebedryf ʼn broodnodige hupstoot sal gee.

Die vereiste om ʼn Covid-19-toets binne 72 uur voor ʼn vlug te doen, word van 1 April af geskrap.

Volgens Taweesin Visanuyothin, woordvoerder van die land se Covid-19-taakspan, sal reisigers wel met hul aankoms in Thailand vir die virus getoets word.

Uiters streng reisbeperkings het Thailand gehelp om die aantal Covid-19-gevalle en verwante sterftes in die vroeë stadiums van die pandemie te beperk. Dit het die land se toerismebedryf, wat ongeveer ʼn vyfde van Thailand se ekonomie beslaan, egter ernstig geknou.

Hoewel Thailand tans sowat 25 000 nuwe virusgevalle per dag aanteken, hoop amptenare dat dit betyds sal afneem sodat die land teen Julie na ʼn “post-pandemiefase” kan beweeg. Die land het ook sy reisbeperkings oor die afgelope nege maande geleidelik verlig.

Hotelle, restaurante en ander toerisme-afhanklike ondernemings het die regering egter versoek om vinniger en daadwerklik op te tree sodat toeriste na die land kan terugkeer.

Die toerismebedryf verwag dat ongeveer vyf miljoen buitelandse besoekers in 2022 na Thailand sal reis – ʼn beduidende afname van die byna 40 miljoen mense wat in die jaar voor die pandemie besoeke aan die land afgelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Thailand weet hoe om toeriste te lok, en dit is goedkoop vir Suid Afrikaners om daar vakansie te gaan hou. Hier in SA wil ons nie eintlik toeriste he nie ne ANC!

Pietertjie

Ek hoop die res van die wêreld skrik wakker uit die covid-psigose en volg Thailand se voorbeeld.

Alfred E Neuman

Ons spandeer ook eerder ons geld in Thailand sodat hulle regering eerder die belastings ontvang as die klomp diewe hier.

Sarie

Dit maak nou baie sin hoor. Geen toets voor jy gaan, maar moet wel getoets word as jy land? WOW!

Pannies

Ons hoop SA en Namibia volg gou hul voorbeeld en skaf die oorgrens toetsery af.
Dit maak nie meer sin nie en is tog net nog n manier om die publiek te melk.