Thailand toets vlermuise vir koronavirus

Supaporn Wacharapluesadee (Foto: BOHRN)

Navorsers in Thailand het meer as 100 vlermuise in ʼn grot in die ooste van die land gevang om hulle vir die koronavirus te toets.

Supaporn Wacharapluesadee, die adjunkhoof van die Thailandse Rooikruis-sentrum vir oordraagbare siektes, het gesê navorsers van Chulalongkorn-hospitaal, Kasetsart-Universiteit en die departement van nasionale parke is besig met die toetse op vlermuise wat op 11 Junie by die Tham Sador-grot in Chanthaburi gevang is.

“Thailand het meer as 140 spesies vlermuise en daar is ʼn behoefte om hulle te bestudeer en meer oor hulle te leer,” het Wacharapluesadee gesê. “Ons moet die koronavirus beter verstaan en weet waar die risiko lê sodat beleide ingestel kan word.”

Wacharapluesadee, wat die land se eerste saak van Covid-19 in Januarie geïdentifiseer het, het gesê die span sal poog om 200 vlermuise te vang, wat dadelik weer in die grot vrygelaat sal word sodra hul speeksel, bloed, urine en ontlasting naby die perseel onttrek is.

Die toetse vir die koronavirus sal in ʼn laboratorium uitgevoer word en dit kan weke duur voor hulle enige uitslae het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in April gesê alle tekens dui tans daarop dat die nuwe koronavirus in vlermuise in China ontstaan het. Dit is nog steeds nie duidelik hoe die virus na mense versprei het nie.

Chanthaburi het drie bevestigde gevalle van Covid-19 waarvan almal herstel het, aldus die provinsiale woordvoerder.

Thailand was die eerste land ná China om ʼn geval te bevestig. Altesaam 58 sterftes is aangemeld van 3 134 gevalle. Meeste persone het herstel. Die land het die afgelope 19 dae geen plaaslike oordrag aangemeld nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magriet ·

Hoekom versprei die Corona virus net in China van dier na mens, maar in die res van die wêreld het dit van mens na dier versprei?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.