Thaise sokkerspan steeds nie uit grotte gered

Die sokkerspan en hul afrigter wat vermis word. Foto: Via nationmultimedia.com

Die 12 jong lede van ʼn Thaise sokkerspan en hul afrigter wat Maandagaand opgespoor is nadat hulle vir langer as ʼn week vermis was, is steeds nie uit die Tham Luang-grotte na veiligheid gebring nie.

Die Amerikaanse nuuswebwerf ABC berig die vloot se spesiale magte in Thailand wat dié seuns en hul afrigter Maandag opgespoor het, is tans besig met ʼn omvattende plan om die groep na veiligheid te bring en terselfdertyd stygende watervlakke en modderstortings te vermy.

Narongsak Osottanakorn, die streek se goewerneur, het bevestig dat mediese spanne die grotte ingestuur is om die groep te behandel.

“Ons het die groep se gesondheidstoestande gekategoriseer as rooi, geel of groen. Rooi is die ernstigste beserings, geel is matige beserings en groen is geringe beserings. ʼn Nie-amptelike ondersoek het vasgestel dat die meeste van die slagoffers in die groen kategorie is,” het Osottanakorn gesê.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is in die grot vasgekeer nadat hulle die grot op 23 Junie binnegegaan en daarna deur vloedwater vasgekeer is. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Die sokkerspan en hul afrigter, van die stad Chiang Rai in die Chiang Rai-provinsie afkomstig, het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip waar hulle meer as ʼn week en ʼn half later steeds vasgevang is.

Volgens CNN is een van die opsies om die groep uit die grotte te bevry om te wag tot die watervlakke drasties daal. Dié nuuswebwerf berig pompe is tans besig om water uit die grotte te pomp, maar dat erge reën die watervlakke telkens net weer laat styg.

Anmar Mirza, ʼn Amerikaanse grot-reddingkenner, het aan CNN gesê indien daar wel besluit word om te wag dat die watervlakke daal, sal dit moeilik wees om genoeg voorraad by die groep uit te kry weens die smal gange wat na die hoër grond lei.

Nog ʼn opsie was glo om die seuns basiese duikvaardighede te leer, maar Mirza sê dié opsie is selfs nóg gevaarliker omdat die 4 km duik na die uitgang van die grot deur ysige en modderige water sou wees – iets wat glo selfs vir die vloot se spesiale magte gevaarlik was.

Ron Allum, ʼn Australiese grotduiker, het aan ABC gesê die tweede opsie sal vir die groep “angswekkend” wees. “Al wat hulle voor hulle gaan sien is bruin water; hulle het absoluut geen verwysing nie,” het hy gesê.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Intussen is ondersoekspanne op soek na enige ventilasieskagte wat na ʼn ander uitgang van die grotte lei – ʼn opsie wat die vloot hoop hulle in staat sal stel om die water heeltemal vry te spring.

Osottanakorn het gesê ondersoekspanne doen alles in hul vermoë om die groep veilig uit die grotte te red. Hy het egter gewaarsku dat die reddingsproses “moontlik baie lank mag neem”.

Maroela Media het vroeër berig die reddingspan het Sondagaand bevestig dat hulle ʼn draai in ʼn nou paadjie van ongeveer 800 m in die grot bereik het waar die paadjie in twee verdeel. Dié plek is ongeveer 2 km van die droë ruimte binne die grot. Die duikers kon voorheen nie verder as dié punt beweeg nie omdat hulle kort-kort die grot moes verlaat weens stygende watervlakke. Dié plek is die verste wat hulle nóg in die grot kon inbeweeg.

Die duikers moes van ekstra suurstofvoorraad gebruik maak sodat hulle langer in die grot kon bly. Die Tham Luang Nang Non-grot is geleë in die Chiang Rai-provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

T ·

Ek bid dat hulle veilig na buite gebring sal word. Wat ‘n ervaring! Hulle sal seker ‘n boek daaroor kan skryf/fliek maak.

Tania Heyns ·

Dagsê Blommie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Foutvind ·

Ek wonder waarom mense altyd moet kyk waar hulle in die teks kan foutvind. Lees net die berig en kommentaar op die inhoud, as jy moet.

Hendrik UAE ·

Kan hulle nie met SA se myn reddings boor of iets soortgelyk in redding skag boor nie?

netso ·

My gedagte was ook stuur n mynreddingspan. Kyk dai ouens is nie onnosel nie. Ek dink die Suid-Afrikaners kan dalk tot hulp wees. Oftewel, die ou Suid-Afrikaners.

Chris Ws ·

Dit sal weke neem om ‘n skagboorder daar te kry indien dit moontlik gaan wees.Daai omgewing is erg bebos.Onthou ‘n skagboormasjien is ‘n massiewe gedoente.En mte die baie reen wat hulle gehad het gaan dit ‘n geweldige gesukkel afgee om hom opgestel te kry.

wilma ·

Al die ellende kon moontlik vermy gewees het indien daar aandag aan die waarskuwing gegee is!

Koos ·

Presies. Mag alle mense wat reëls, waarskuwings en kennisgewings ignoreer ‘n les hieruit leer…

Nettie ·

Ja-nee kyk, daai spanafrigter sal darem ‘n baie, baie goeie verduideliking moet kan gee, as een van mý kinders in sy span was en hy hom in soveel gevaar gestel het, deur waarskuwings wat helder en duidelik was, te ignoreer.

Ek sal hom sowaar as vet weet aanspreeklik hou vir enige mediese onkoste asook onkoste t.o.v. sielkundige behandeling wat my kind moet ondergaan a.g.v. sy roekelose en ondeurdagte besluit.

Veiligheid ·

Ongelukkig het hulle nou nie die kennisgewing ter harte geneem nie (die afrigter, want die res is tog maar net opgewonde kinders) en nou moet die fokus wees om hulle te red en nie om hulle te oordeel nie. Ek voel baie jammer vir hulle en ek hoop hulle word sommer gou na veiligheid gebring.

Mynopmeter ·

Ek reken die Thai-manne is taai genoeg hiervoor. Die probleem om ‘n skag te boor (soos ook deur my aangehaal voorheen) is dat die dak van die grot heel moontlik onstabiel is en ‘n massiewe rotsstorting tot gevolg mag veroorsaak. Die dak kan moontlik op so ‘n wyse inmekaar pas dat die geringste versteuring van een enkele rots(ie) fataal kan wees. Ek het ondergronds gesien hoe hierdie reaksie plaasgevind het dat oor ‘n lengte van 30m die dak van ‘n afbougebied totaal ineenstort. Hierdie reddingspoging is dus nie eenvoudig. Ek stem saam om ‘n alternatiewe roete te probeer vind. Hierdie roete kan dan vooraf veilig gemaak word en selfs vergroot word. Ek bekyk die foto vd outjies en beslis is hulle maerheid en grootte in hul guns!!

Beulah ·

Ek haal my hoed af vir die mense wat die tipe van reddingswerk doen. Hulle is in my oë manne en vroue van staal. Regte helde in my wêreld.

Sinies ·

Wat n wonderlike ervaring, bietjie geduld en hulle gaan uit soos hulle ingeklim het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.