Thaise vrou swaar gestraf ná sy koninklikes beledig

Argieffoto.

’n Thaise vrou wat daarvan beskuldig is dat sy die koninklike familie beledig het, is Dinsdag tot 43 jaar tronkstraf gevonnis. Dit is die langste wat enigiemand nog in Thailand vir dié oortreding toegesluit word.

Die uitspraak volg nadat Thailand die gebruik van die omstrede wetgewing wat mense verbied om die monargie te beledig, strenger gemaak het.

Hierdie wetgewing beskerm die koninklike familie teen laster, beledigings of dreigemente, in ooreenstemming met artikel 112 van die strafwet wat kritiek op die monargie insluit.

Die Thaise vrou, Anchan (haar van word deur advokate weerhou om haar familie te beskerm), is Dinsdag op 29 aanklagtes skuldig bevind ingevolge die lèse majesté-wet. Dit is wetgewing wat mense verbied om die monargie te beledig. Sy is altesaam 87 jaar tronkstraf opgelê, wat met die helfte verminder is omdat sy skuld erken het.

Die Thai Lawyers for Human Rights-groep het gesê Anchan het om borgtog aansoek gedoen hangende ’n appèl teen die vonnis.

Polisie probeer betogers opbreek in Thailand (Foto: Jack Taylor, AFP)

Anchan, ’n voormalige staatsamptenaar, is in 2015 die eerste keer in hegtenis geneem nadat sy verbind is met ’n ondergrondse podsending-aanbieder, net bekend as DJ Banpodj, ’n vurige kritikus van die monargie. Sy is aanvanklik drie jaar in aanhouding gehou voordat sy op borgtog vrygelaat is.

Die langste vonnis wat voor Anchan s’n onder die lèse majesté-wet opgelê is, was 35 jaar.

Titipol Phakdeewanich, ’n politieke ontleder van die Ubon Ratchathani Universiteit in Thailand, het gesê Anchan se uitspraak kon “polities gemotiveerd” wees ten einde aktiviste te intimideer. Hy het egter gewaarsku dat sulke swaar vonnisse die aansien van die instelling van die monargie in die binneland en internasionaal kan beskadig.

Thailand gaan al die afgelope ses maande gebuk onder betogings wat deur jeuggroepe gelei word. Een van die eise van dié groep jong betogers is die afskaffing van die lèse majesté-wet.

Sedert die betogings in Julie begin het, is meer as 40 aktiviste aangekla vir die oortreding van bogenoemde wet omdat hulle aan betogings deelneem wat die hersiening van premier Prayut Chan-o-cha se regering en hervormings aan die monargie geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Stuur haar SA toe om haar 43 uit te dien. Sy kan dan die ANC en EFF van more tot aand beledig!

Pietertjie ·

Lyk my die klompie kroon-draers is maar liggeraak oor hulle onderdane se opinies…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.