‘The Crown’ en die fyn lyn tussen feite en fiksie

Tobias Menzies as prins Philip en Olivia Colman as koningin Elizabeth II in ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown)

Die vierde seisoen van die veelbesproke Netflix-reeks The Crown het uit vele oorde onder skoot gekom oor die geskiedkundige inhoud van die reeks en presies waar die streep tussen feite en fiksie getrek kan word.

Die reeks handel oor die doen en late van die Britse koninklike familie. Die eerste seisoen skop af waar koningin Elizabeth II haar rol as monarg begin ná die dood van haar pa, koning George VI. Sy was 27 jaar oud toe sy op 2 Junie 1953 gekroon is.

Dit is egter die vierde seisoen van The Crown, wat afspeel in die periode tussen 1979 en 1990 tydens Margaret Thatcher se premierskap, wat onder hewige kritiek deurloop – veral dié van Britse kykers.

Dié seisoen handel onder meer oor lady Diana Spencer en prins Charles se troue, hul stormagtige huwelik, die geboorte van hulle seun prins William, hulle toer na Australië en Nieu-Seeland in 1983 en die Falklands-oorlog.

Die Britse aktrise Emma Corrin vertolk die rol van prinses Diana teenoor Josh O’Connor in die rol van die hubare prins Charles. Daar word druk op hom geplaas om met Diana te trou, terwyl hy eintlik verlief is op Camilla Parker-Bowles, met wie hy vandag getroud is.

Ten spyte van die reeks se gewildheid, word skepper Peter Morgan daarvan beskuldig dat hy sommige storielyne fabriseer sonder enige waarskuwing aan kykers dat dit inderdaad fiksie is. Volgens kykers neem Morgan en die skrywers van die reeks hul vryheid tot kreatiwiteit ʼn stap te ver.

Emma Corrin as Diana in ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown)

AFP berig die koninklike outeur Penny Junor, wat onder meer prins Charles se biografie geskryf het, meen die reeks se uitbeelding van prins Charles se ontrouheid teenoor Diana deur sy verhouding met Camilla vol te hou, is heeltemal onwaar.

“Inteendeel het hulle [Charles en Camilla] mekaar vir bykans vyf jaar nie gesien nie. Die reeks maak Diana uit as ʼn slagoffer en Charles as ʼn boosdoener, terwyl albei van hulle eintlik slagoffers [van omstandighede] was,” sê Junor.

Sy voeg by dit is ook onwaar dat Diana se stryd met bulimie begin het toe sy met Charles getroud is. “Daar is baie mense in Brittanje en regoor die wêreld wat ‘The Crown’ as akkurate historiese vertellings sien. Dit is nié geskiedenis nie. Dit is drama.”

Dickie Arbiter, ʼn voormalige perssekretaris vir Buckingham-paleis, sê die reeks stel prins Charles in ʼn besonder slegte lig. Hugo Vickers, koninklike fotograaf, beskryf dit as “heeltemal eensydig” en voeg by dat die uitbeelding van die koningin se man, prins Philip, ook kommerwekkend is.

In een van die tonele in die vierde seisoen sê Philip vir Diana dat dinge nie goed sal eindig indien sy wegbreek van die koninklike familie nie. “Ek hoop nie dit is ʼn dreigement nie,” sê Diana dan.

“Dié toneel ondersteun die gerugte, wat steeds deur die internet aangehits word, dat Diana se noodlottige motorongeluk in ʼn tonnel in Parys, Frankryk, in 1997 ʼn moorddadige sluipmoord was,” sê Vickers.

In ander episodes word Philip gesien waar hy weier om te kniel tydens die koningin se inhuldiging en word hy uitgebeeld as ʼn rokjagter wat deur sy eie pa daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik was vir die dood van sy suster Cecile in ʼn vliegtuigongeluk.

Hierdie storielyne word deur Vickers in die Daily Mail beskryf as “verkeerd, verkeerd en monsteragtig.”

Emma Corrin en Josh O’Conner in ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown)

Die historikus en outeur Ioanis Deroide sê egter hy sien die reeks se uitbeelding van die verhouding tussen Charles en Diana as “redelik”. Deroide sê die openbare reaksie is as gevolg van die “emosioneel belaaide gebeure” waar rondom die reeks sentreer, met die herinneringe van Diana se dood nog vars in mense se geheue.

Die Britse koerant The Mail het intussen in ʼn omvattende berig ʼn beroep op Netflix gedoen om dit duidelik te maak dat The Crown fiksie is.

Kultuursekretaris Oliver Dowden het dié berig gesteun. “Ek is bevrees dat ʼn generasie van kykers wat nie deur hierdie gebeure geleef het nie, fiksie vir feite gaan aansien,” sê Dowden.

Helena Bonham-Carter, die Oscar-bekroonde aktrise wat die rol van ontslape prinses Margaret vertolk, sê ook die reeks het ʼn “morele verantwoordelikheid” om seker te maak kykers besef dit is fiksie.

Vir Deroide is daar egter geen manier hoe die reeks verwar kan word met ʼn dokumentêr nie. “‘The Crown’ is net een element van vele wat die Britte toelaat om hulle eie opinies te vorm oor die koninklike familie. Ek dink nie die reeks alleen kan Charles laat lyk soos ʼn goeie ou, of andersom, nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.