The Voice-sangeres sterf ná skietery

Christina Grimmie tydens The Voice se sesde seisoen (29 June 2014) (Foto: Robb D. Cohen/Invision/AP, File)

Christina Grimmie tydens The Voice se sesde seisoen (29 June 2014) (Foto: Robb D. Cohen/Invision/AP, File)

Die sangeres Christina Grimmie is oorlede ná ʼn aanhanger haar drie keer geskiet het terwyl sy handtekeninge uitgedeel het, voor hy homself doodgeskiet het.

Heather Walsh, Grimmie se agent, het Saterdag in ʼn e-pos bevestig Christina is oorlede. Die Orlando-polisiedepartement het dit ook op sy amptelike Twitter-blad bevestig.

Grimmie, oorspronklik van New Jersey, het derde gekom tydens die sesde seisoen van NBC se “The Voice” in 2014. Sy was op Adam Levine se span.

Sy het as tiener al gewildheid verwerf op YouTube met haar weergawes van musiektreffers en het miljoene kykers gehad.

Die 22-jarige sangeres het Vrydag saam met die groep, Before You Exit, by The Plaza Live in Orlanda, Florida opgetree. Die konsert het omstreeks 22:00 klaargemaak en Grimmie is geskiet terwyl sy handtekeninge uitgedeel het.

Haar broer, Mark, het dadelik op die skieter afgeduik, maar die man het homself tydens die struweling doodgeskiet. Die man se naam is nog nie bekend gemaak nie en die polisie het nog nie gesê waarom hy die sangeres aangeval het nie.

Die polisie het Grimmie se broer geloof vir sy optrede dat hy seker gemaak het die skieter beseer nie enigiemand anders nie.

Die ondersoek duur voort.

Adam Levine en Christina Grimmie (Foto: Adam Levine, Instagram)

Adam Levine en Christina Grimmie (Foto: Adam Levine, Instagram)

Levine het ʼn foto van homself en Grimmie op Instagram gelaai waar hy kommentaar gelewer het voor haar afsterwe bekend gemaak is: “Ek is hartseer, geskok en verward. Ons is so lief vir jou Grimmie.”

“The Voice” het ook ʼn huldeblyk aan Grimmie op sy Twitter-blad gelewer: “Daar is nie woorde nie. Ons het ʼn lieflike siel met ʼn ongelooflike stem verloor.”

Die Philadelphia Inquirer het in 2014 berig Grimmie het in 2012 na Los Angeles verhuis nadat sy by Selena Gomez op ʼn toer aangesluit het om op haar sangloopbaan te fokus. “Ek is nie meer verras deur al die cool goed wat sy doen nie,” het haar broer in daardie stadium aan die koerant gesê. “Sy is baie talentvol en sy werk ongelooflik hard – dis ʼn gevaarlike kombinasie.”

– Mayo het uit Washington berig. Schreier het uit Atlanta berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

m ·

Tragies. n Lewe is net niks meer werd nie. Hierdie mal mens het soveel hartseer veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.