Theranos-saak uitgestel oor moontlike Covid-blootstelling

Elizabeth Holmes, voormalige uitvoerende hoof van Theranos saam met haar man, Billy Evans (8 September 2021) (Foto: Nick Otto/AFP)

Die Silicon Valley-hofsaak van een van die wêreld se eerste jong vroue-miljardêrs, Elizabeth Holmes, is Vrydag uitgestel ná ʼn jurielid moontlik aan Covid-19 blootgestel is. Die hofsaak het vroeër vandeesweek begin en sal na verwagting maande lank voortduur vir getuienis.

Vrydag se verrigtinge in ʼn hof in Kalifornië in die VSA is gekanselleer “as voorsorgmaatreël”, het regter Edward Davila aan prokureurs gesê tydens ʼn aanlyn verhoor Donderdagaand.

Holmes se verhoor het Woensdag in San Jose begin. Staatsaanklaers voer aan sy het groot leuens vertel om beleggers in haar mediese firma Theranos te bedrieg. Haar verdediging voer egter aan sy het te goeder trou opgetree en was bloot nie suksesvol nie.

Holmes word van bedrog aangekla nadat pasiënte en beleggers bedrieg is. Sy is die voormalige hoof van Theranos, ’n maatskappy wat die Edison-masjien ontwikkel het. Daar is beweer dat dié masjien bloedtoetse kan vergemaklik deur verskeie toetse op net ʼn klein bietjie bloed te doen. Sy is as ʼn visionêr geprys – en vergelyk met Apple-stigter Steve Jobs. Maar jare, en miljarde dollar later, is daar nie aan die beloftes voldoen nie. Die “wondermasjiene” het nie gewerk nie.

“Dit is bietjie, ek wil nie sê onheilspellend nie, maar dit is kommerwekkend dat ons ʼn kwessie het nog voor ons die eerste getuie afgehandel het,” het Davila gesê, aldus plaaslike berigte.

Die jurielid, wat laat weet het hy is moontlik oor die naweek aan Covid-19 blootgestel voor die hofsaak begin het, sal nou vir die virus getoets word.

Elizabeth Holmes, voormalige uitvoerende hoof van Theranos (17 Julie 2019) (Foto: Kimberly White/Getty Images/AFP)

Holmes se saak is reeds ʼn paar keer uitgestel – mees onlangs toe sy ʼn baba vroeg in Julie gehad het.

Toe sy in 2003 as 19-jarige die diagnostiese maatskappy Theranos se deure oopgemaak het, het die charismatiese Holmes resultate belowe wat vinniger en goedkoper sal wees as tradisionele laboratoriums. Staatsaanklaers sê die toetse het egter nie gedoen wat belowe is nie en nou staan sy tereg op aanklag van bedrog wat dekades lange tronkstraf kan beteken. “Die beskuldigde se bedrieglike skema het van haar ʼn miljardêr gemaak,” het federale aanklaer Robert Leach vroeër aan jurielede gesê. Die aanklaers sê Holmes het geweet die masjiene werk nie, maar sy het steeds vir beleggers, dokters en pasiënte bly lieg sodat sy sowat $700 miljoen vir die maatskappy kon insamel.

Volgens Forbes-tydskrif het Holmes in ʼn stadium ʼn netto waarde van sowat $3,6 miljard gehad. Sy was die jongste selfgemaakte miljardêr.

“Theranos was deels onsuksesvol omdat foute gemaak is. Maar foute is nie misdade nie. ʼn Onsuksesvolle besigheid beteken nie die uitvoerende hoof is ʼn misdadiger nie,” het Lance Wade, vir Holmes, aan die jurie gesê.

Die verdediging voer ook aan dat Holmes sielkundig mishandel en beheer is deur haar sakevennoot Ramesh “Sunny” Balwani. Hy staan tereg op aanklagte in ʼn afsonderlike saak.

As die 37-jarige Holmes skuldig bevind word op aanklag van bedrog en sameswering om bedrog te pleeg, kan sy tot 20 jaar tronkstraf opgelê word.

Jurielede is gewaarsku om nie nuus oor die hofsaak te lees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.