Theranos-stigter skuldig aan bedrog

Elizabeth Holmes, voormalige uitvoerende hoof van Theranos (17 Julie 2019) (Foto: Kimberly White/Getty Images/AFP)

Elizabeth Holmes, een van die wêreld se eerste jong vrouemiljardêrs, is Maandag in die sogenaamde Silicon Valley-hofsaak daaraan skuldig bevind dat sy pasiënte en beleggers in haar mediese firma Theranos bedrieg het.

Jurielede het sewe dae lank besin voordat hulle Holmes op drie aanklagte van bedrog en een van sameswering om bedrog te pleeg skuldig bevind het. Die 37-jarige vrou word nou deur moontlik 20 jaar tronkstraf vir elkeen van dié skuldigbevindings in die gesig gestaar.

Holmes is egter op vier aanklagte vrygespreek terwyl die jurielede nie uitspraak in drie ander aanklagte kon lewer nie.

Maroela Media het vroeër berig Holmes is die voormalige hoof van Theranos, ’n maatskappy wat die Edison-masjien ontwikkel het.

Daar is vroeër beweer dat dié masjien bloedtoetse kan vergemaklik deur verskeie toetse op net ʼn klein bietjie bloed uit te voer. Holmes is destyds as ʼn visionêr aangeprys – en vergelyk met Apple-stigter Steve Jobs. Maar jare, en miljarde dollar later, is daar nie aan die beloftes voldoen nie. Dié “wondermasjiene” het nie gewerk nie.

Aanklaers het as deel van die opspraakwekkende saak 11 weke lank meer as 20 getuies geroep om hul argumente te staaf dat Holmes geweet het dat die masjiene nie werk nie en beleggers en pasiënte doelbewus mislei het om sowat $700 miljoen vir haar maatskappy in te samel.

Haar verdediging het egter aangevoer dat sy te goedertrou opgetree het en bloot nie suksesvol was nie.

“Die skuldigbevindings in hierdie saak weerspieël Holmes se skuld in hierdie grootskaalse beleggersbedrog en sy moet nou gevonnis word vir haar misdade,” het die Amerikaanse prokureur Stephanie Hinds ná die uitspraak in ’n verklaring gesê.

Holmes het geen kommentaar gelewer toe sy die hofgebou verlaat het nie.

Sy bly voorlopig ’n vry vrou totdat daar volgende week oor haar borgtogvoorwaardes besluit word.

Geen datum is nog vasgestel vir vonnisoplegging nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Geen gesigsuitdrukking… En volgende kom eise teen sekere entstofvervaardgers ná groot beloftes. Amerikaners hou daarvan om eers met ‘n slapriem gevang te word en daarna groot eise in te stel.

Tienie ·

Vinnig. Deeglik. Afgehandel.

Wat n voorbeeld vir “Banana country” SA se reg stelsel.

Pablo ·

Die wêreld is vol dom mense met geld wat alles glo wat beleggers aan hulle verkondig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.