Theresa May oorleef mosie van wantroue

Theresa May, Britse eerste minister. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

“ʼn Aansienlike deel van my kollegas het teen my gestem, maar nou moet ons verder werk aan Brexit.”

Só het die Britse premier, Theresa May, laat Woensdagaand gereageer op die uitslag van ʼn mosie van wantroue in haar eie gelede, die Konserwatiewe Party. Altesaam 200 parlementslede het vir haar voortgesette leierskap van die regerende party gestem en 117 daarteen, berig De Standaard.

“Hoewel ek dankbaar is vir die steun wat ek gekry het, het ʼn aansienlike getal kollegas teen my gestem. En ek het geluister na wat hulle gesê het,” het May ná die bekendmaking van die uitslag gesê, berig Al Jazeera.

Luidens berigte het sy Woensdag aan haar partygenote gesê sy sal die tuig as partyleier voor die algemene verkiesing van 2022 neerlê nadat sy die party tot oorwinnings in die algemene verkiesings van 2015 en 2017 gelei het.

In ʼn toespraak wat oor TV uitgesaai is, het May gesê haar regering is opnuut daarop toegespits om die Brexit te verwesenlik waarvoor Britse kiesers gestem het, “een wat beheer oor ons geld, grense en wetgewing herstel”.

Onversetlike lede van May se party is gekant teen die Brexit-ooreenkoms wat sy onderhandel het omdat hulle meen die reëling om die grens tussen die Britse provinsie Noord-Ierland en die EU-lidstaat Ierland oop te hou, die Verenigde Koninkryk kan dwing om ʼn onbepaalde tyd lank EU-reëls te aanvaar, berig Deutsche Welle.

Die eerste minister se volgende groot uitdaging is om genoeg parlementslede te oorreed om vir die konsepwetgewing te stem wat Brexit moontlik sal maak. Brittanje se skeiding van die EU sal na verwagting op 29 Maart aanstaande jaar plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.