Theresa May ‘sal teen mosie van wantroue baklei’

Theresa May, premier van Brittanje, verlaat 10 Downing Street. Foto: Xinhua/Tim Ireland

Die regerende Konserwatiewe Party in Brittanje het ʼn mosie van wantroue in Theresa May, premier van Brittanje, ingedien.

LP Graham Brady het Woensdag gesê die drumpel van 48 briewe van wetgewers wat benodig is om ʼn leierskapstemproses aan die gang te sit, is bereik. Brady is die voorsitter van die partykomitee wat leierskapstrydkwessies hanteer.

Talle LP’s raak ál meer ongelukkig met May oor haar hantering van Brexit.

As sy die stemme van partywetgewers Woensdagaand verloor, sal sy moet uittree. Indien sy wen, kan haar leierskap nie weer vir die volgende jaar uitgedaag word nie.

Jeremy Hunt, Brittanje se minister van buitelandse sake, het Woensdagoggend sy steun aan May toegesê. “Om die eerste premier te wees, is tans die moeilikste werk denkbaar en die laaste ding wat die land nou nodig het, is ʼn skadelike en uitgerekte leierskapstryd,” het Hunt op Twitter gesê.

“Brexit sou nooit maklik gewees het nie, maar sy is die beste persoon om seker te maak ons verlaat die Europese Unie op 29 Maart.”

Intussen het May vanoggend buite Downing Street gesê sy sal die wantrouemosie teenstaan “met alles wat ek het”.

RTE News berig May het gesê ʼn verandering in leierskap sal Brittanje se toekoms in gedrang plaas en Brexit-onderhandelinge in die wiele ry. May het gesê indien sy die leierskapstryd verloor, sal ʼn nuwe leier nie teen die sperdatum van 21 Januarie slaggereed wees nie, “dié leierskapstryd skep dus die risiko dat beheer van die Brexit-onderhandelinge na opposisie-LP’s in die parlement kan gaan”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gross ·

JY SAL VERLOOR, NIEMAND VERTROU JOU MEER NIE . mag jy hard val!!

Daan Erasmus ·

Die meeste en ek skat 80% van alle Britte het nie ‘n idee gehad waarvoor hul, hulself inlaat nie. Kiesers is op sleeptou geneem deur Politici wat ook nie geweet het wat die gevolge van hul dade is nie. Daar is waarnemers wat sê dat die 70% van INGELIGTE kiesers sal stem om te bly in EU.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.