Thomas Cook vou: Dís hoekom jy reisversekering moet hê

Die Heathrow-lughawe in Londen. (Foto: pixabay)

Honderdduisende mense is Maandag wêreldwyd gestrand gelaat na die Britse toermaatskappy Thomas Cook ineengestort het.

Die maatskappy, wat al 178 jaar bestaan, kon nie daarin slaag om fondse te bekom om sy redding te bewerkstellig nie. Die maatskappy het vroeër die maand gesê dat dit in gevorderde gesprekke met Fosun Tourism Group, sy grootste aandeelhouer, is om £200 miljoen in te vorder vir sy krediteure. Die maatskappy het aanvanklik ʼn finansiële inspuiting van £750 miljoen gesoek.

Analiste sê die toenemende gewildheid onder toeriste om hul eie vakansies te beplan en nuwe idees soos Airbnb het die maatskappy gekniehalter. Onsekerheid in die Britse ekonomie as gevolg van Brexit, het verdere druk op die maatskappy geplaas, terwyl terreuraanvalle in een van Thomas Cook se grootste markte, Noord-Afrika, ook tot sy ondergang gelei het.

Thomas Cook kon “na vele onderhandelinge” nie daarin slaag om die fondse in te samel nie en alle vlugte op die maatskappy se vier lugrederye en vakansiepakkette is onmiddellik afgelas na die maatskappy bankrotskap verklaar het. Die maatskappy se 21 000 werknemers in 16 lande sal ook nou sonder werk sit. Altesaam 600 000 mense het Sondag nog van die maatskappy se dienste gebruik gemaak.

Uit dié reisigers was om en by 50 000 mense in Griekeland, 30 000 in Spanje se Kanariese Eilande, 21 000 in Turkye en 15 000 in Ciprus gestrand. Die Britse regering het nou ʼn program van stapel gestuur om die gestrande toeriste te help om terug by die huis te kom. In 2017 het dié regering omtrent £60 miljoen bestee om toeriste te repatrieer, toe Monarch Airlines destyds inmekaar getuimel het.

Omtrent een miljoen toekomstige Thomas Cook-reisigers se reisplanne is ook gekanselleer. Baie van die reisigers sal danksy reisversekering terugbetalings ontvang.

Die plaaslike finansiële diensteverskaffer Hippo.co.za het gesê die krisis beklemtoon hoe uiters belangrik dit vir reisigers is om reisversekering uit te neem alvorens hulle vertrek.

“ʼn Basiese vorm van reisversekering kan dikwels by banke uitgeneem word wanneer jy ʼn vliegkaartjie koop, maar die tipe versekering is nie altyd voldoende nie, omdat dit beperkings plaas op ouderdom, koste, dienste en sekere bestemmings,” het Vera Nagtegaal, Hippo.co.za se uitvoerende hoof, gesê.

Die meeste reisversekeringsplanne dek mediese uitgawes vir noodgevalle, kontanthospitaalvoordele per dag, ongelukke wat tot sterfte of mediese ongeskiktheid lei, noodreis- en verblyfkoste.

“Reisigers sal soms ook nodig hê om bykomende dekking uit te neem wat die land waarheen hulle vertrek in ag sal neem. Hulle moet dan ʼn lys saamstel oor wat hulle dalk kan nodig hê bo en behalwe wat die algemene reisversekering dek.

“Die doel van die versekering is om jou te beskerm en om jou gemoedsrus te gee, sou jy mediese aandag of ontruiming benodig, of as jy finansiële verlies sou ly,” sê Nagtegaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

En hulle het dit op die ingewing van die oomblik gedoen terwyl honderde duisende wat reeds betaal het in die tande geskop word ? Hoe tiperend van ‘n modder eiland bewoner ….

Gert van Wierdapark ·

Is Captain Cook van die “Pirates of the Caribbean” dalk betrokke?!

Droë Perske ·

Is hierdie ‘n nuusberig of ‘n advertensie vir reisversekering?

Attie. ·

Hierdie is baie beslis ‘n advertensie vir reisversekering.

Leon ·

Thomas Cook het swaar gesteun op sy reisergers tjeks. Mense gebruik krediekaarte en bespreek deesdae self hulle plekke. Die reisagentskappe vat ook ‘n groot hap uit die reiskoste en mense soek iets wat nie die oorgrete meerderheid van jou reis opeet nie.
Thomas Cook het net te groot geword en toe val ht plat. Jammer vir die arme mense wat nou gestrand is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.