Tien dood ná skieter in VSA losbrand

Die skietery het Saterdagaand plaasgevind. (Foto: Frederic J Brown/AFP)

Altesame tien mense is Saterdag dood nadat ʼn skieter glo blindelings op ʼn dansplek in Monterey Park aan die suide van Kalifornië losgebrand het.

Inwoners van die gebied het glo die Chinese nuwe maanjaar gevier toe daar op hulle geskiet is.

Kapt. Andrew Meyer van die Los Angeles-sheriff se kantoor sê beamptes het Saterdag om 22:20 op ʼn noodoproep gereageer en op die toneel talle mense aangetref wat uit ʼn dansplek stroom.

“Die beamptes het toegang tot die gebou verkry en gesien dat ʼn aantal mense geskiet is. Die Monterey Park-brandweer was ook op die toneel en het tien mense dood verklaar,” sê hy.

“Daar is minstens nog tien mense wat gewond is en hul toestand wissel van stabiel tot kritiek. Hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem.”

Volgens ooggetuies het die vermeende skieter van die toneel gevlug en is sedertdien skoonveld.

Die polisie het nog geen beskrywing van die verdagte uitgereik of uitgebrei oor die soort vuurwapen wat hy vermoedelik gebruik het nie.

Diegene wat egter ten tyde van die skietery in die gebied was, voer aan dat die man ʼn semi-outomatiese vuurwapen gebruik het.

ʼn Plaaslike inwoner, Wong Wei, het aan die Los Angeles Times gesê sy vriend was in die dansklub se badkamer toe die skietery uitgebreek het.

Sy het glo ʼn man gesien wat ʼn lang vuurwapen dra en blindelings op mense losbrand. Sy het drie liggame gesien, van wie twee vroue was en die derde glo die eienaar van die klub.

Seung Won Choi, ʼn restauranteienaar naby die klub, het gesê dat drie mense by sy restaurant ingehardloop en hom aangesê het om die deur te sluit. Hulle het beweer dat ʼn man skote afvuur en boonop verskeie patrone by hom het.

Duisende mense het vroeër die dag bymekaargekom vir die twee dag lange Chinese nuwemaanjaarfees, een van die grootste feeste in die suide van Kalifornië.

Die tweede dag van die fees is egter ná die aanval gekanselleer.

Volgens Meyer weet die ondersoekers nie of die verdagtes sy slagoffers geken het en of hy net ʼn spesifieke groep geteiken het nie.

“Dit is nog te vroeg in die ondersoek om te weet of hierdie voorval ʼn haatmisdaad was al dan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Hy is gevang. Mede Asiaat, so geen “hate crime” Libbies kan ontspan

Jaco ·

Wat dan nou van die hoogheilige Demokrate se “gunfree America”, “healing America” en die alewige “human rights”? Hulle is al meer as 2 jaar aan bewind. Dis mos meer as genoeg tyd om alles reg te kry. Hulle het dan so baie negatief teen Trump en die Republiekeine te sê gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.