Tienduisende nog haweloos ná sikloon Idai

sikloon-01

Sikloon Idai (Mosambiek) (Foto: Leon-Ben Lamprecht)

Tienduisende persone is nog steeds haweloos of bly in “haglike omstandighede” ʼn jaar ná sikloon Idai dele van Malawi, Mosambiek en Zimbabwe verwoes het, het Amnestie Internasionaal Vrydag gesê.

Inwoners word in tydelike behuising gehuisves en is kwesbaar vir siektes soos cholera.

Finansiële ondersteuning vir heropbouprogramme van die internasionale gemeenskap het afgeneem en die regerings se pogings duur voort op ʼn slakkepas, het die organisasie bygevoeg.

“ʼn Jaar ná sikloon Idai Malawi, Mosambiek en Zimbabwe getref het, word persone steeds geraak. Hulle oorleef skaars,” het Tigere Chagutah, adjunkdirekteur vir oos- en suidelike Afrika van Amnestie Internasionaal, gesê.

“Tienduisende mense is nog steeds haweloos. Sommige woon in skuilings wat die Verenigde Nasies verskaf het en ander in tydelike strukture. Hulle het nie toegang tot basiese sanitasie nie en die risiko vir cholera en soortgelyke siektes is groot. Kinders gaan nie skool toe nie en gesondheidsorgfasiliteite is nog nie weer ten volle herstel nie. Gegewe die haglike omstandighede, moet voortvarende state en verskeie skenkers meer skenk om seker te maak dat die geld uitkom by diegene wat dit benodig.”

Die organisasie het gesê minder as die helfte van die US$450 miljoen wat benodig word vir verligting en bystand aan die gemeenskappe is tot dusver bekom.

Mosambiek, wat die swaarste getref is, het in Mei 2019 ʼn fondsinsamelingskonferensie gehou om finansiële ondersteuning te bekom. Die konferensie het minder as ʼn derde van dit wat vir dié land vereis word, ingesamel.

Sikloon Idai het Malawi, Zimbabwe en Mosambiek tussen 14 en 16 Maart 2019 getref. Meer as 1 000 persone is dood en meer as 3 miljoen is sonder water, kos, skuiling en kritieke infrastruktuur gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter J ·

Hierdie is kenmerkend van Afrika se onbevoegde regerings maar dit is mos nie polities korrek om daarna te verwys nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.