Tiener in koma ná walvis boot tref

Die tiener en sy stiefpa se boot ná die fratsongeluk. (Foto: Carmen Bartley)

ʼn 18-jarige tiener van Nieu-Suid-Wallis in Australië is in ʼn koma nadat hy in ʼn fratsongeluk deur ʼn walvis verpletter is.

Die tiener en sy stiefpa (39) het Sondagoggend aan die kus van Narooma gehengel toe ʼn walvis uit die water opgekom en op hul boot beland het.

Volgens ABC News het die stiefpa daarin geslaag om die boot na die hawe toe te stuur, hoewel dit reeds baie beskadig was.

Die tiener is met ernstige kopbeserings en ʼn vermeende rugfraktuur na die Canberra-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

“Hy is in ʼn koma. Ons weet nie wanneer hy gaan wakker word of hoe die beserings sy brein gaan beïnvloed nie,” het Carmen Bartley, ʼn vriend van die tiener se ouers, gesê.

(Foto: Carmen Bartley)

Bartley het intussen ʼn GoFundMe-blad gestig om geld in te samel vir die tiener se mediese koste.

“Hy is afkomstig van ʼn hardwerkende familie wat nooit hulp vra nie, maar in hierdie stadium het sy familie almal se ondersteuning nodig.”

Die stiefpa het matige beserings opgedoen en is by die Moruya-hospitaal behandel vir harsingskudding en snywonde aan sy gesig.

Volgens Bartley het die twee nie geweet die walvis is naby nie, en was daar geen waarskuwings nie.

“Hulle was net besig om te doen wat hulle geniet. Hulle het dit al menigmale vantevore gedoen.”

Die tiener, wat binnekort sy 19de verjaarsdag vier, sou vandeesweek begin werk het.

“Ons weet nie wat die toekoms vir hom inhou nie.”

Walvis se toestand

Owerhede glo ‘n boggelrugwalvis het die tiener en sy stiefpa se boot getref. (Foto: Kenneth Findlay)

Owerhede meen dat die walvis moontlik tydens die botsing beseer is. Nieu-Suid-Wallis se nasionale wildbewaarders sal in samewerking met die Organisasie vir die Redding en Navorsing van Cetaceans (Orrca) werk om die walvis op te spoor en te behandel.

“Ons gaan op die uitkyk wees vir die walvis, wat vermoedelik ʼn boggelrugwalvis is. Die omvang van die walvis se beserings sal eers bepaal kan word wanneer die walvis se grootte bekend is. Ons hoop egter dat dit matige beserings is,” het Joold Farrell, Australiese visepresident van Orrca, gesê.

Joe McNulty, ondersoekbeampte by die maritieme owerheid van Nieu-Suid-Wallis, het intussen ʼn ondersoek van stapel gestuur.

“Die voorval is ʼn bewys van die gevare wat seediere vir diegene op see kan inhou. Mense op bote, surfski’s en kajakke moet bewus wees daarvan dat hulle nie nader as 100 m van ʼn walvis of ander soogdier in die see mag wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.