Tiener se dood in Maleisië ‘was nie moord’

Nora Quoirin. Foto: AFP

’n Londense tienermeisie wat in Augustus 2019 dood in ’n woud in Maleisië gevind is nadat daar dae lank na haar gesoek is, is nie vermoor nie.

“Nadat ek al die relevante getuienis aangehoor het, het ek tot die beslissing gekom dat niemand betrokke was by haar dood nie,” het Maimoonah Aid, ’n lykskouer, bevind. Volgens Aid is daar geen tekens dat die 15-jarige Nora Anne Quoirin vermoor of seksueel aangerand is nie.

Nora se familie het intussen gesê hulle is “uiters teleurgesteld” met die bevindings.

Nora se naakte lyk is op 13 Augustus 2019 langs ’n stroom in ’n digte woud gevind. Sy het op 4 Augustus vermis geraak, ’n dag nadat sy en haar gesin in Seremban aangekom het vir ’n vakansie.

Reddingswerkers het dae lank na haar gesoek en helikopters en snuffelhonde is ook by die soektog ingespan. Die polisie het volgehou dat geen vuilspel vermoed word nie en die nadoodse ondersoek het bevind dat sy waarskynlik uitgehonger het en weens inwendige bloeding dood is nadat sy dae lank in die woud was.

Nora se ouers, Meabh en Sebastien. Foto: AFP/Royal Malaysia Police

Nora se ouers het egter geglo sy is ontvoer en het gesê hul dogter sou nie in die middel van die nag uit hul chalet se venster geklim het, soos wat deur die owerhede beweer is nie. Nora is met ’n siektetoestand gebore wat die ontwikkeling van haar brein beïnvloed het.

Haar ouers het na afloop van Maandag se beslissing gesê daar is “uitsluitlik gefokus op fisieke bewyse en fisieke mobiliteit – wat ons glo ’n baie onvolledige/selektiewe teorie bied oor wat tot Nora se dood gelei het .”

Aid het egter gesê dit is moontlik dat Nora dalk gedisoriënteerd was na ’n lang en uitputtende reis vanaf Brittanje en die aktiwiteite wat die gesin by die Dusun-oord onderneem het op die dag van hul aankoms.

Nora se ouers het tydens die ondersoek gesê dat hulle die nag van haar verdwyning vreemde geluide gehoor het en dat dit daartoe bygedra het dat hulle glo hul dogter is ontvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.