Tiener sien hoe pa hom doodval

Die Palisades woonstelgebou in San Diego. (Foto: Facebook/ Suffolk Construction)

ʼn Man is dood toe hy met ʼn valskerm van ʼn hoë gebou in San Diego in die VSA probeer spring het. Die polisie sê sy 16-jarige dogter het gesien hoe haar pa na sy dood val.

Volgens die Amerikaanse nuuskanaal NBC News het die 48-jarige man Dinsdag om 22:30 van ʼn woonstelgebou van 23 verdiepings ʼn valskermsprong probeer uitvoer.

“Ons is nog nie seker of die valskerm nie gewerk het en of hy net nie genoeg tyd gehad het om die valskerm te aktiveer nie,” het kapt. Scott Wahl, polisiewoordvoerder, gesê. Hy het gesê die man se dogter was saam met hom op die dak van die gebou en kon sien wat gebeur.

Die San Diego Union-Tribune berig ʼn inwoner van die woonstelgebou het aan 911 gesê sy het ʼn harde geluid, soos dié van ʼn geweerskoot, gehoor. Toe sy oor haar balkon loer het sy die man bloeiend op die grond sien lê.

Paramedici het probeer om die man by te bring, maar hy is dood nog voordat hy na ʼn hospitaal geneem kon word.

Volgens die polisie is dit onwettig om van geboue en ander hoë plekke in die stad af te spring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.